NewsSchools

Warries groet hul hoof ná 20 jaar

Laerskool Warmbad het die afgelope week finaal totsiens gesê aan Hennie Coetzee wat ná 20 jaar as skoolhoof afgetree het.

Hy en sy vrou, Debbie, jarelange gr. 2-onderwyser by die skool, is op pad Kaap toe. Hulle verhuis na Groot Brakrivier in die George-omgewing en sien baie uit na die die rustiger lewe in dié mooi kusdorp. “Groot Brak is amper soos die Hawaii van Suid-Afrika,” het Coetzee laggend aan Die Pos gesê.

Hy was sedert 2000 skoolhoof by Laerskool Warmbad.

“Ek het groeijare, lekker jare en ook ’n paar hartseerjare hier beleef. Ons het in hierdie tyd van ons leerders en personeellede aan die dood afgestaan. Ons het ook in dié 20 jaar baie nuwe personeellede verwelkom. Ons is hartseer om in hierdie onnatuurlike tyd van die Covid-19-pandemie afskeid te moes neem, want ons sou graag die gemeenskap met ’n handdruk wou groet.”

Coetzee het aan Die Pos gesê hy en sy vrou sien daarna uit om vir ’n slaggie net te doen waarvoor hulle lus het, omdat hulle vir so ’n lang tydperk die skool as eerste prioriteit moes stel wanneer hulle besluite geneem het.

“Dit is vir my gesin op hierdie stadium die beste besluit, want dit is tyd om af te skaal. My en Debbie se harte sal altyd by onderrig en liefde vir kinders bly. Dit is ’n nuwe fase en ons sal daarby moet aanpas. Ons sien met afwagting uit na kwaliteit tyd met ons familie.”

Coetzee het gesê hy weet die skool gaan gedy met die jong, dinamiese personeellede by Laerskool Warmbad. Die jongmense is pro-aktief en kan makliker by ’n “nuwe normaal” aanpas.

“Die jong onderwysers kan baie goed in enige situasie aanpas. Hulle voel nie die beperking van ’n fisieke klaskamer nie, omdat hulle weet dat die kuberruim hul klaskamers kan wees,” het hy gesê.

“Ek hoop mense sal my onthou as ’n objektiewe persoon en dat ek elkeen sonder voorkeur met respek behandel het.”

Die skool het op Woensdag 22 Julie in die skoolsaal van die egpaar afskeid geneem.

Francois van Wyk, onderwyser by die skool, is intussen aangestel as die Warries se waarnemende skoolhoof.

Related Articles

Back to top button