NewsSchools

Reuben gee nie moed op

“Reuben het nooit gaan lê nie en met groot geesdrif skool bygewoon. Hy was ’n wonderlike inspirasie vir elkeen wat sy pad gekruis het.”

Terugslae in die lewe laat baie mense in moedeloosheid verval, maar hierdie woord bestaan nie vir Reuben van Tonder van Mookgophong nie.

Wanneer ’n mens hierdie seun ontmoet en die liefde en passie vir die lewe in sy oë sien, sal jy nooit kan droom deur watter diep waters hy al is nie.

Reuben is vanjaar in matriek aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong en ’n slimkop wat keuring gekry het om aanstaande jaar elektromeganiese ingenieurswese by die Potchefstroom-
kampus van die Noordwes Universiteit te gaan studeer.

Net voor Reuben se tweede verjaarsdag, is hy met limfoblastiese leukemie (acquit lymphoblastic leukemia) gediagnoseer. Dié kanker kom voor wanneer daar ’n wanbalans en afwyking in die beenmurg-DNS voorkom en te veel witbloedselle produseer wat weer ’n tekort aan suurstof in die liggaam veroorsaak. Hy het op hierdie vroeë ouderdom chemoterapie ontvang en is ná verskeie behandelings van kanker genees. “Die dokters het vir my ma gesê daar is ’n 10% kans dat ek dit weer kon kry, maar my ouers het my nie daarvan vertel nie,” het hy aan Die Pos gesê.

“Op 27 Februarie 2017 — toe ek in gr. 9 was — het die skok gekom dat ek weer kanker het en ek en my gesin moes weer die pad van behandeling begin stap. Dit was rowwe tye en ek het werklik gedink dat ek sou doodgaan, maar die dominees het saam met my gesin aanhou bid en die Here het my daardeur gedra en ná ’n stamseloorplanting is ek gesond,” het hy vertel.

“Reuben het nooit gaan lê nie en met groot geesdrif skool bygewoon. Hy was ’n wonderlike inspirasie vir elkeen wat sy pad gekruis het,” het Spikkels de Wet, voormalige hoof van die Hansies, verskeie kere oor hom gesê.

“Ek het geleer dat bekommernis oor klein dingetjies in die lewe nie die moeite werd is nie. Daar gaan tye van swaarkry wees, maar die geheim is om aan te hou bid. Dit hou ’n mens staande en God verhoor gebede. Moet egter nie net bid en dan agteroor sit en niks doen nie. Die Here het middels en medici gegee om ons te help,” is Reuben se raad aan mense wat moeilike tye beleef.

“My ouers en gesin was my grootste steunpilaar en my vriende, Abbi van der Walt en Hannes Tereblanché, was altyd aan my sy om my by te staan.”

Volgens Reuben dra hy tydens die inperkingstyd met gemak sy masker, want dit is belangrik dat veiligheidsmaatreëls gevolg word.

“My siekte het my die insig gegee om ander mense met respek te behandel. ’n Mens weet nooit wanneer jou lewe omvergegooi word nie. Wees lief vir die lewe,” het hy met ’n breë glimlag gesê.

Reuben is die tweede oudste van vyf kinders.

Related Articles

Back to top button