NewsSchools

Bosveldspruitjies is reg om die ‘kieme te pootjie’

“Die kinders is ongelooflik gehoorsaam. Hulle dra hul maskers, saniteer hul hande gereeld en hou by die reëls.”

Skole het op Maandag 6 Julie die groenlig gekry vir gr. R, gr. 6 en gr. 11-leerders om terug te keer skool toe.

Kleuterskool Bosveldspruitjies in Bela-Bela se onderwysers het tydens die grendeltyd hulpmiddels en werksopdragte saamgestel om die kleuters tuis met opvoedkundige aktiwiteite te stimuleer.

Ouers het die pakkies met apparaat by die skool afgehaal en die kleuters op dié manier gehelp met wiskunde en selfs musieklesse.

Christa Snyman, skoolhoof, het aan Die Pos gesê, ouers kan hul kinders met geruste harte by die skool aflaai.

“Die kinders is ongelooflik gehoorsaam. Hulle dra hul maskers, saniteer hul hande gereeld en hou by die reëls. Ek het hierdie week met groot dankbaarheid gesien hoe almal saamwerk.”

Elke leerder se temperatuur word soggens geneem, waarna hulle na hul onderskeie klaskamers beweeg. Ouers word nie sonder ’n vooraf reëling op die terrein toegelaat nie.

Indien leerders siek word, is daar ’n spesiale area ingerig met pretaktiwiteite waar hulle tydelik geplaas word totdat reëlings met hul ouers getref is om hulle te kom haal.

Elke kind het in die klaskamer ’n afgemerkte blok waarin hulle moet sit om afstand tussen mekaar te handhaaf. Elkeen word ook van sy of haar eie houer met speelgoed en apparaat voorsien, wat hulle nie met ander mag deel nie. Dit word daagliks gesteriliseer.

Elke leerder kry ook ’n prentjie van ’n kiem met hul name op, waarop hulle moet sit as motivering om gesond te bly.

“Die kinders vra al heel eerste soggens: Juffrou, waar is my kiem?’ as hulle die klaskamer binnekom. Dit skep by hulle ’n gevoel van bewustheid en bevorder hul visuele erkenningsvaardighede.”

Snyman het gesê hulle het die aktiwiteite vir die eerste week só saamgestel om leerders touwys te maak oor algemene Covid-19-begrippe. Die kinders neem ook deel aan prettige virus-tema-liedjies en dansroetines wat sosiale afstand beklemtoon.

“Leerders word tydens pouse in drie groepe verdeel wat om die beurt buite speel. Ons het ’n onderwyser aangestel wat met ’n sanitasie-spuitkan rondloop en alle apparate steriliseer voordat ’n nuwe groep begin speel. Sanitasiestasies is ook op verskillende plekke op die speelgrond aangebring en die leerders word aangemoedig om dit te gebruik,” het sy gesê.

“Ons sal baie graag al ons maats hier wou hê, maar ons verstaan ons ouers se persoonlike omstandighede. Ons is goed voorbereid en gerat vir hierdie uitdagende tyd.”

Die kleuterskool sluit daagliks om 12:30.

Related Articles

Back to top button