NewsSchools

RiVo-dramastudente maak skoonskip by kunstefees

Die RiVo-dramastudente en hul afrigter van die KunsteGrot in Thabazimbi het hul staal gewys met uitstekende uitslae en verskeie kategorietoekennings na afloop van die Pierneef Teater in Pretoria se digitale kunstefees.

Altesame 15 hoërskoolleerders van gr. 8-12, almal RiVo-dramastudente, het aan hierdie digitale kunstefees deelgeneem.

William Niemand, gr. 12-leerder, het aan verskeie items deelgeneem en is as algehele wenner aangewys in die afdeling: Monoloë — Hoërskole.

Virtuele teater is ’n nuwe vorm van die eeueoue kunsvorm van vermaak. Deelnemers het nog altyd staatgemaak op ’n meelewende gehoor, maar tydens die grendeltyd is nuwe uitdagings gestel om te sorg dat dié kunsvorm nie afgeskeep word nie.

Rita Volschenk van die KunsteGrot het aan Die Pos gesê die Pierneef Teater het beslis ’n leidende rol gespeel om teater en die talent van dramastudente deur middel van hierdie digitale kunstefees lewendig te hou.

Volschenk het afrigting deur Whatsapp-videoklasse aangebied.

Die studente het volgens haar regdeur die grendeltydperk getrou geoefen en hard gewerk.

Beoordeling was streng, met tien beoordelaars en gemiddeld tussen 15-20 inskrywings per item. RiVo-drama het 35 items ingeskryf en het agt A’s behaal, 12 A+’e, 14 A++’e en sewe dramastudente is aangewys as kategoriewenners en een as algehele wenner.

Volschenk het gesê sy is baie trots op die leerders. Hul prestasies getuig van selfdissipline en deursettingsvermoë.

Die ATKV KunsteGrot-dramafees, wat oorspronklik op 12 Julie sou plaasvind, het weens die inperking ook reeds digitaal voortgegaan en die inskrywings is reeds aan die beoordelaars gestuur. Die uitslae word teen einde Junie verwag.

Intussen het die afrigting van sommige groepe by die KunsteGrot onder die streng bepalings ingevolge die inperkingsvoorskrifte hervat.

Related Articles

Back to top button