NewsSchools

Maskers, hande was en afstande …

’n “Nuwe normaal” het op Maandagoggend 8 Junie vir duisende kinders aangebreek toe gr. 12- en gr. 7-leerders van staatskole te midde van streng veiligheidsmaatreëls weer by hul skole moes aanmeld.

Hoërskool Warmbad se matrikulante het gemasker en ordelik van punt tot punt by die skool beweeg waar hul temperatuur geneem is, hul hande by verskeie punte ontsmet is en vrae oor hul gesondheid gevra is.

Leerders mag slegs van 06:40 tot 07:30 vir die skooldag aanmeld. Besoekers moet ook deur dieselfde sanitasieproses gaan en afsprake moet gemaak word.

Hoewel streng veiligheidsmaatreëls gevolg word, was die Warrie-leerders en personeel baie bly om mekaar weer te sien.

“Ek is glad nie bekommerd oor die vlak van die leerders se akademie nie, want ons aanlynklasse was van puik gehalte en die leerders is veral baie goed voorberei in wiskunde. Ons is beslis gereed vir die termyn,” het Paul Liddle, skoolhoof, aan Die Pos gesê. “Daar word geen buitemuurse aktiwiteite vir die res van die termyn beoog nie en daarom kan ons 100% op akademie fokus.”

By Laerskool Warmbad was dit vir Hennie Coetzee, skoolhoof, ’n dag om nooit te vergeet nie. Hy het op dié dag sy laaste verjaarsdag by die skool gevier, aangesien hy vanjaar aftree.

Coetzee en die personeel het die gr.7-leerders tot ’n splinternuwe wêreld van leer verwelkom. Die leerders het die oggend ’n voorlegging van die personeel in die buitelug bygewoon waar die nuwe veiligheidsmaatreëls aan hulle verduidelik is.

Volgens Coetzee kon die onderwysers daarin slaag om die leerders steeds welkom en veilig te laat voel al moet streng, nuwe reëls nou gevolg word.

Leerders word beperk tot een kind per skoolbank waar hulle vir die res van die dag sit. Die onderwysers sal van klaskamer tot klaskamer wissel om hul lesse aan te bied. Leerders mag nie skryfbehoeftes en eetgoed deel nie.

Elke leerder is verder versoek om sy of haar eie badkamersakkie met higiëniese produkte saam te bring skool toe. Slegs een leerder mag op ’n slag die kleedkamers besoek, waarna die kleedkamers dadelik ontsmet moet word.

Die jong Warries is dankbaar om terug te wees en sien met afwagting uit na die nuwe kwartaal. Hul was ook verlig om te verneem dat daar slegs ’n eksamen aan die einde van die jaar geskryf sal word.

“Ons wil die nuwe roetine so vinnig as moontlik deel van die leerders se lewens maak. Ek wil benadruk dat die konsep van veiligheid en persoonlike higiëne by die ouerhuis ingeskerp moet word en by die skool voortgesit moet word om die pandemie te beveg,” het Coetzee gesê.

Die personeel by albei skole het gesê die nuwe uitdagings word bestuur en dat hulle alles moontlik doen om te sorg dat personeel en leerders veilig is.

Die formele skooldae vir Hoërskool Warmbad-leerders sal voortaan van 07:30 tot 14:00 wees en vir Laerskool Warmbad is die skooldag vanaf 07:30 tot 11:30 daagliks vir die duur van die nuwe termyn.

Related Articles

Back to top button