NewsSchools

Thabazimbi-skole gereed om leerders te ontvang

Onderwysers het verlede week hard gewerskaf om Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi gereed te kry vir die terugkeer van gr. 7- en gr. 12-leerders.

Albei skole het by navraag gesê hulle is slaggereed en kan nie wag om die leerders terug te ontvang nie.

Die leerders het nie tydens die grendeltyd op hul louere gerus nie en aanlynskoolwerk ontvang.

Albei skoolhoofde het aan Die Pos gesê hulle is vol vertroue dat al die leerders voorberei sal wees om hul eindeksamen later vanjaar af te lê.

 

Koshuisleerders van Hoërskool Frikkie Meyer wat aangemeld het, moes teleurgestel terugdraai huis toe nadat die onderwysdepartement ter elfder ure besluit het om die opening van skole met nóg ’n week uit te stel.

 

Die skole volg, soos duisende skole landwyd, baie streng veiligheidsmaatreëls.

Aangesien ontsmetting van sulke groot persele duur is en die koste daarvan deur die skole self gedra word, is die rol van die gemeenskap uiters noodsaaklik.

Altesame 17 skole in en om Thabazimbi praat met groot lof van Hannes Coetzee van Thaba SuperSpar wat dié werk gratis verrig het — dieselfde lofwaardige diens wat sy broer, Carel Coetzee van Bela-Bela SuperSpar-by skole in die Bela-Bela-omgewing verrig het.

Danksy dié besparing kan talle skole in die Waterberg wat nog geen geld vir sanitasiegeriewe van die departement van onderwys ontvang het nie, sorg dat hulle solank ander broodnodige toerusting kan koop.

Volgens Koos Venter, skoolhoof van Laerskool Thabazimbi, het die skool byvoorbeeld een skandeerder om leerders se temperatuur te meet ontvang. Die instrument was nie in ’n werkende toestand nie en die skool moes op eie koste vier skandeerders teen ’n prys van R1 700 elk aankoop. Die maskers wat deur die departement voorsien is, was ook nie voldoende nie en die tekort moet uit eie koffers aangevul word. Die ontsmettingsmiddel en saniteermiddel met spuitkannetjies was ook nie voldoende nie en die gemeenskap het ook op dié gebied die skool ondersteun deur donasies te skenk.

Colin Campbell, hoof van Hoërskool Frikkie Meyer, het gesê personeel het hard gewerk om alles gereed te hê voor die gr. 12-leerders se terugkeer. Spesiale bane is uitgemerk waar leerders voor skool kan aantree terwyl hulle die regte sosiale afstande handhaaf.

Campbell het gesê hulle is teleurgestel dat die skole nou eers ’n week later kan open. “Almal het daarna uitgesien dat die lewe weer kan begin normaliseer.”

Die personeel en matrikulante het aangedui dat hulle voltallig sou wees.

Die hoof van Mabogopedi Secondary School in Regorogile, Johann van Rensburg, het gesê die skoolgeboue en klaskamers is gereed om gr. 12-leerders te verwelkom. Alle ondersteuningspersoneel het reeds by die skool aangemeld.

Onderwysers wat deur vakbonde aanbeveel word om nie terug te keer skool toe voordat aan al die basiese vereistes voldoen is nie, is die grootste uitdaging in die voorbereidingsproses.

Meer as 50% (48 van die 63 matrikulante) het reeds aangetoon dat hulle wel gereed is om terug te keer skool toe op die datum
waarop skole moet heropen, het Van Rensburg gesê.

Related Articles

Back to top button