NewsSchools

Hansie-matrieks daag op vir skool

“Dit was heerlik om die leerders weer te sien en te kon doen waarvan ons as onderwysers hou: om onderrig te gee. Ons kinders het hul uitstekend gedra en was baie positief.”

Die matrikulante en onderwysers van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong was op Maandag 1 Junie — ná sewe weke van inperking — opgewonde en byna uitgelate om weer hul skooljaar te hervat.

Die Hansies was gewapen met ontsmettingsmiddels en maskers en die breë glimlagte agter die maskers was duidelik in hul oë te bespeur. Daar was wel hier en daar ’n leerder wat effens gespanne was oor die nuwe maatreëls by die skool.

Die opgewondenheid was egter van korte duur toe hulle moes verneem dat die skool ná net een dag weer moes sluit — net om op Maandag 8 Junie weer te open. ’n Babelse verwarring het landwyd in onderwyskringe uitgebreek nadat die departement van onderwys enkele ure voordat skole moes open, besluit het om dié datum aan te skuif.

“Ek was aangenaam verras met die aantal matrieks wat by die skool was, veral in die lig van die verwarring wat daar oor die datum geheers het. Dit is verblydend om te sien dat daar so ’n behoefte by die leerders is om by die skool te wees,” het Rinus de Jager, skoolhoof, aan Die Pos gesê.

Marina Gravett, waarnemende adjunkhoof van die skool, het gesê klasse en die terrein is goed voorberei volgens departementele riglyne en die Hansies was slaggereed om vandeesweek te begin klasdraf.

“Dit was heerlik om die leerders weer te sien en te kon doen waarvan ons as onderwysers hou: om onderrig te gee. Ons kinders het hul uitstekend gedra en was baie positief,” het Gravett gesê.

Elke leerder en onderwyser se temperatuur is by verskillende ingange van die skool geneem en die opening is op die hoofpawiljoen waargeneem. Micke Hofmeyr en Tristan Snyman, hoofleiers van die skool, het albei treffende boodskappe gelewer.

“Ons het ongelooflike samewerking van die leerders gekry en ek is bly dat ons dié stap gedoen het en standpunt ingeneem het oor die erns van ons leerders se skoolwerk,” het De Jager gesê.

Hy wil ouers gerusstel dat daar genoeg tyd sal wees om die gr. 12-leerplan vir die jaar af te handel en dat roosters só aangepas is om daarvoor voorsiening te maak. Hy is wel bekommerd oor die ander grade wat eers heelwat later begin.

“Die gevoel van samehorigheid by die leerders en onderwysers is vir my ’n riem onder die hart. Hulle het almal tydens die inperking hard gewerk. Ek is trots op die onderwysers wat gewys het dat hulle aangehou het om die wiel te laat rol ten spyte van groot finansiële druk vir sommiges,” het De Jager gesê.

Die Hansies was een van slegs ’n handjievol skole in Limpopo wat op 1 Junie heropen het. Sowat 80% van die matrieks was op hul pos en gereed om te leer.

Related Articles

Back to top button