NewsSchools

Kyk hoe oulik is die Frikkies!

“Ek het nooit in my lewe gedink dat ek skool só baie sal mis nie.”

Die landwye inperkingsbevel het nie hul positiewe uitkyk op die lewe gekelder nie, sê Gustav Grobler (hoofseun) en Ruvé Blaauw (hoofmeisie) van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi.

Albei leerders het die afgelope week tydens onderhoude met Die Pos gesê die noue kontak met hul ouers, broers en susters het hul gesinsbande versterk. Hulle meen ook dat leerders se noodgedwonge selfstudie hulle voorberei vir wat van hulle op universiteit verwag kan word as hulle sukses wil behaal.

Gustav en Ruvé het groot lof vir die onderwysers van Hoërskool Frikkie Meyer wat reeds, voordat die inperking ingetree het, vir die leerders voorbereiding getref het vir tuisstudie.

 

Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se kranige netbalspeler en hoofmeisie, Ruvé Blaauw, sê hoewel sy die interaksie van skoollewe baie mis, is haar oog gerig op haar voorbereiding vir haar studies aanstaande jaar.

 

Elke vakonderwyser het pakkies met daaglikse werkopdragte aan leerders uitgedeel. Al die werk wat behandel is, is vervat in die handboeke, hoewel leerders aangemoedig is om van eksterne bronne op die internet, soos Wolkskool, gebruik te maak tydens hul studie.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die skool het gesorg dat daar vir elke vak ’n Whatsapp-groep gestig is waardeur die onderwysers op ’n daaglikse basis kontak met die leerders behou om nuwe materiaal te behandel. Die vakonderwysers stel ook gereeld video’s beskikbaar waar nuwe werk visueel aangebied word.

“Ek het nooit in my lewe gedink dat ek skool só baie sal mis nie,” het Ruvé gesê.

Hoewel sy teleurgesteld is oor alles wat gekanselleer moes word, soos die eerste netbalspan se toer, die netbalkliniek en ander sosiale skoolgeleenthede, is sy vasbeslote om die kort tydjie wat van die skooljaar oorbly ten volle te geniet. “Miskien kan die skool se beoogde revue dalk nog plaasvind …”

Dié geesdriftige netbalspeler, wat die afgelope ses jaar Limpopo-kleure verdien het, weet dit is iets wat nie vanjaar weer gaan gebeur nie.

Sy sê sy mis die sportaktiwiteite, maar is bly oor die gehaltetyd saam met haar ouers en jonger suster, Quinelle (gr. 11), asook haar tweelingboetie en -sussie, wat nou in gr. 3 is.
Sy het ook meer tyd om haar ma, Isobel, in die kombuis te help en haar kook- en bakvernuf te verbeter.

“Matriekafskeid is maar van kleintyd af ’n meisie se droom … die rok, om saam met Gustav die dansvloer as hoofdogter- en hoofseun te open …” het sy gesê oor dié groot geleentheid wat waarskynlik vir alle skole landwyd van die baan is.

Ruvé meen: “Ek glo hierdie is ’n toets. God het ’n plan vir ons almal.”

Ruvé het reeds voorlopige keuring vir Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria ontvang.

Gustav het aan Die Pos gesê hy mis die sosiale kontak tussen leerders en onderwysers, asook die skoolaktiwiteite.

Hy en sy gesin woon op die skoolterrein van Laerskool Ellisras waar sy pa, Gustav snr., skoolhoof is. Hy het daarom toegang tot al die geriewe op die skoolterrein.

Gustav is ’n ywerige sportman en draf sedert verlede jaar vir die skool se eerste rugbyspan uit. Sy span se langverwagte toer na Mosselbaai is afgestel, wat vir hom ’n groot teleurstelling was.

Hy hoop dat daar nog iets sal oorbly van die krieketseisoen, want hy is ook lid van die skool se eerste krieketspan en ’n uitblinkerkolwer en -paaltjiewagter.

“Dit is lekker om by die huis te wees en skoolwerk teen jou eie, gemaklike pas te doen.”

Hy bring soggens van 09:00 tot 12:00 voor die boeke deur en smiddae weer van 13:00 tot 15:00.

Hy konsentreer op voorbereiding vir die September-eksamen. Hy werk so ’n bietjie in die tuin en die gesin hou van braaivleis wanneer almal inspring om te help.

Gustav sê die inperking het hom geleer dat niks seker is nie — alles kan in ’n oogwink verander.

Hy het voorlopige toelating gekry om aanstaande jaar B.Com. Rek aan Tukkies te studeer.


Baie dankie aan Roof Technologies sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button