NewsSchools

Inperking ’n reuse uitdaging vir skole

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Bela-Bela Phodiclinic.

Die Pos het die afgelope week met ’n paar onderwysers, ouers, leerders en vakadviseurs in Mookgophong gesels oor dié vreemde “skooljaar”en hoe dit hulle raak.

Die meeste mense is positief oor hoe onderwysers leerders bystaan en skoolwerk aanbied. Daar is egter ouers en leerders wat baie angstig is oor die pad vorentoe. ’n Hele paar ouers het aan Die Pos gesê hulle voel oorweldig deur die hoeveelheid werk wat van hulle en hul kinders verwag word.

Sommiges was hande in die hare omdat hulle nie tuis toegang tot WiFi het nie en die ekstra data ’n bykomende geldelike las op hulle plaas. Ander het gesê hulle het nie rekenaars of drukkers tuis nie.

Dié “tuisonderrig” is veral vir werkende ouers ’n uitdaging en ook vir diegene met jonger kinders wat nog baie hulp nodig het en nie op hul eie kan aangaan nie.

’n Onderwyser by een van die laerskole in die dorp het gesê elke voogonderwyser het ’n WhatsApp-groep waardeur hulle werk aanstuur.

“Ouers en leerders vra dan sommer op die groep as iets verduidelik moet word. Van die onderwysers neem video’s van hulself en dra op dié manier inligting aan die leerders oor. Ons weet egter nie of die leerders die opdragte uitvoer nie. Dit is nou in die ouers se hande.”

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Een van die matriekleerders by Hoërskool Hans Strijdom het gesê aanlynaanbiedings is vir haar ’n groot aanpassing.

“Ek besef regtig nou vir die eerste keer die waarde van vriende, onderwysers, akademie en die voorreg om na ’n skool te kan gaan.”

“Ons onderwysers doen baie moeite om gereeld werk te stuur en selfs video’s waar hulle lesse aanbied asof ons in die klas sit. Hulle noem selfs van die leerders op hul name. Party dae voel dit asof ons meer werk doen as wat ons by die skool self sou gedoen het,” het sy gesê.

Een leerder het gesê dit verg selfdissipline om voor die boeke te gaan sit en te begin werk.

“Ek voel daar is darem ’n bietjie meer tyd om te swem, met jou troeteldiere te speel, familietyd en eietyd,” het ’n ander gesê.

Een ouer het gevoel die inperkingstyd gee vir kinders meer tyd om saam met hul sussies en boeties te werk. “Daar is egter uitdagings, want ek moet alles in die huis doen en dan ook juffrou wees. Die positiewe sy is dat kinders om die eetkamertafel sit en mekaar help met die werk en weer saam kan lag en kuier,” het ’n ma gesê.

Verskeie vakadviseurs het aan Die Pos gesê dit is goed dat onderwysers klasse aanbied, maar het gemaan dat dit volgens die departement van basiese onderwys se program moet geskied. Die relevante inligting is op die TV-kanaal 317 beskikbaar.

“Dit is moeilik om inligting aan veral gr. 12-leerders deur te gee en dan aan te neem dat hulle self daardeur werk. ’n Mens het beslis die kontak met leerders nodig. Digitale metodes is goed, maar dit kan nie die klaskamer vervang nie,” het een vakadviseur gesê.


Baie dankie aan Bela-Bela Phodiclinic sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button