NewsSchools

Meneer Spikkels groet die onderwys

“Dit was ’n voorreg om grensdiens vir my land te doen” - Spikkels de Wet

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het op Vrydag 28 Februarie afskeid geneem van ou vriende, Spikkels en Annemarie de Wet.

Spikkels het die afgelope jaar en ’n half as hoof by dié skool waargeneem. Dit was ook Vrydag sy 62e verjaardag.

Dit was met ’n knop in die keel dat die Hansies hul geliefde hoof gegroet het en die trane het vlak gelê toe hulle vir oulaas die Hansielied, wat hy self geskryf het, vir hom gesing het.

Spikkels is op 28 Februarie 1958 in Nakuru, Kenia, gebore, maar het sy grootwordjare in Kempton Park deurgebring waar hy in 1976 aan Hoërskool Kempton Park gematrikuleer het. Hy het ná skool vir twee jaar diensplig gedoen.

“Dit was ’n voorreg om grensdiens vir my land te doen,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy het daarna aan die Goudstad Onderwys Kollege in Johannesburg gestudeer. Hy het op die huiskomitee van Majuba-koshuis gedien en is ook as lid van die Studenteraad verkies. Hy was as student ’n rasieleier en kon die studente behoorlik opsweep voor sportgeleenthede.

Hy en Annemarie is in 1982 getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore. Die kinders was almal in Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong en Hoërskool Hans Strijdom.

Spikkels se onderwysloopbaan het in 1983 by Langlaagte Tegniese Skool in Gauteng begin, maar in 1984 het die gesin platteland toe verhuis waar hy ’n pos by Hoërskool Hans Strijdom aanvaar het.

“Een van die hoogtepunte by die Hansies was in 1987 toe ons ’n tweede plek in die Interhoër behaal en die sangbeker gewen het,” het hy gesê.

Spikkels is in hokkiekringe bekend vir sy afrigting en die wyse waarop hy spelers kon motiveer. Een van sy suksesse was toe sy o.16-meisieshokkiespan die gesogte Noordvaal-trofee gewen het.
Hy is in 2006 as adjunkhoof by Hoërskool Warmbad aangestel en was later waarnemende hoof en hoof.

Dit was in sy tyd dat Hoërskool Warmbad weer deel van die Bosveld Interhoër geword het.

Spikkels is ’n geografieonderwyser in murg en been. “Die hoogtepunte vir my as onderwyser was nog altyd om met kinders te werk en vir hulle geografie aan te bied,” het hy gesê.

Hy en Annemarie beoog om eersdaags Pretoria toe te verhuis waar hulle ’n rustige aftrede wil geniet.

“Ons sal Spikkels baie mis vir sy glimlag, skerp sin vir humor en sy ongelooflike menseverhoudings,” het Annatjie Roets, ’n jarelange vriendin en kollega, gesê toe sy hom namens die personeel gegroet het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button