NewsSchools

Waterberger verskaf musiek by geselligheid

Cordier de Beer, talentvolle sanger, liedjieskrywer en boer van die Waterberg het gesorg vir musiek uit die boonste rakke tydens sy optrede in die Strijdom-teater by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong.

Die geselligheid is op Donderdag 20 Februarie aangebied om die kultuurfonds van die skool te versterk. “Dit was ’n baie aangename aand en ek het dit baie geniet,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies, gesê.

Dit was die derde keer dat ’n gaskunstenaar in dié nuwe toevoeging tot die skool se uitgebreide geriewe opgetree het. Die gaste het elkeen ’n mandjie gepak met eet- en drinkgoed en tot laataand gekuier. Die teater kan tot 60 gaste huisves en is in die vorm van ’n bistro-teater.

De Beer staan eintlik bekend as Corrazerwas en skryf en toonset al sy liedjies self. Sy musiek kan beskryf word as poëtiese storievertel, musiek met diep, roerende lirieke en strelende melodieë wat afgewissel word met polsende liedjies wat oud en jonk wil laat dans.

Hy het in die Roedtan-omgewing grootgeword, maar woon tans op die plaas Groenfontein buite Vaalwater. Een van sy lirieke is juis oor dié plaas wat hom baie na aan die hart lê.
De Beer het al twee albums opgeneem. Sy liedjies Wentelbaan, Sossusvlei en Naby Jou ontvang gereelde speeltyd op onder meer RSG en verskeie ander radiostasies. Een van sy werke is al gebruik in die televisiereeks Vrydag 4 uur.

Hy het al die verhoog gedeel met bekende kunstenaars soos Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Marcia Moon, Die See, Werner Bekker, Radio Kalahari Orkes en landwyd by verskeie feeste opgetree.

Related Articles

Back to top button