NewsSchools

Oorvol klasse en tekort aan toerusting ontstig ouers

Hoër- en laerskole in Phagameng, Modimolle, is verlede week vir drie dae lank tot stilstand gedwing nadat beheerliggame die toegangshekke gesluit het.

Oorvol klaskamers, ’n tekort aan toerusting en die gesloer met die aanstelling van onderwysers is van die probleme wat skole vanaf Maandag 17 Februarie tot Woensdag 19 Februarie lamgelê het.
Verskeie skole in die Bela-Bela-townhsip het verlede week om dieselfde redes hul deure toegetrek.

Onderwysers en skoolhoofde waarmee Die Pos gepraat het, het ’n donker prentjie geskets van die uitdagings waarvoor onderwysers staan. Van die klaskamers het glo tot soveel as 90 kinders in met skaars plek vir die onderwyser om teen die bord te beweeg. Drie hoërskoolkinders is ingeryg op banke bedoel vir twee en kry skaars geskryf. In gr. 1-klasse, waar baie individuele aandag nodig is om die kinders te help om die stywe leerkurwe baas te raak, sit onderwysers dikwels met soveel as 60 kinders.

Inwoners van Phagameng het uiteenlopende menings gehad oor of die gedwonge sluiting van skole die regte manier was om die probleem te hanteer. “Ons praat al jare lank en die probleme kry eenvoudig net nie aandag nie. Ek is bekommerd oor die hoeveelheid tyd wat ons verloor, maar êrens gaan iemand na ons moet begin luister. Die kinders kan nie in sulke toestande leer nie,” het ’n onderwyser, wat anoniem wou bly, gesê. “Ons kinders loop buite in die strate rond en raak net al verder agter met die werk. Is daar geen ander manier om die probleme op te los nie?” wou een van die ouers weet.

Diegene waarmee Die Pos gepraat het, was dit eens dat daar dringend nog skole in die woonbuurt nodig is. Daar is jare lank al beloof dat nog ’n hoërskool in Uitbreiding 10 gebou sou word. Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het die grond reeds in 2016 aan die departement van onderwys geskenk.

Die departement het mobiele klaskamers by die skole afgelaai om die probleem tydelik op te los. Solomon Mhlangu High School het vier gekry en Lekkerbreek Primary en Phagameng High School het ook klaskamers gekry.

Related Articles

Back to top button