NewsSchools

Die Hansies hou groentjiekonsert

Die groentjiekonsert (beter bekend as die “welpiekonsert”) van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het vanjaar weer vir baie humor en stampvol sale gesorg.

Die “welpies” was op hul stukke en het ’n drama opgevoer wat deur Micke Hofmeyr, hoofmeisie van 2020, geskryf is.

“Die tema was die werklikheid van televisie en die dinamika binne ’n gesin waar die boetie en sussie nie kan ooreenstem met die keuse van programme om te kyk nie,” het Micke aan Die Pos gesê.

Beurtkrag was ook deel van die tema van die konsert en die nuwe skoolhoof, Rinus De Jager, se siel is ook uitgetrek.

Die konsert is op Woensdag en Donderdag 5 en 6 Februarie in die skoolsaal opgevoer. Vanjaar se gr. 8-leerders is “sanguijuelas” — die Spaanse woord vir bloedsuiers — genoem, maar is ná die konsert as ware Hansie-welpies ingelyf tydens ’n geselligheid waar elke welpie ’n knopie, wat op die skoolhemp gedra word, ontvang het.

“Al 138 leerders was deel van die konsert en hulle was spontaan in hul optrede. Hulle is nou volwaardige welpies wat sal groei tot ‘brullende leeus’ in matriek. Elke leerderraadslid het gehelp om dit so ’n groot sukses te maak,” het Micke gesê.

De Jager het na afloop van die twee optredes gesê hy is baie beïndruk met die produksie, ook as ouer, aangesien sy eie seun vanjaar ’n gr. 8-leerder aan die skool is.

Related Articles

Back to top button