NewsSchools

Dié nuwe skoolhoof skrik nie vir groot uitdagings

Daar is ’n vrolike gemurmel van kinderstemme op die skoolgrond.

Amore Badenhorst, voorheen ’n onderwyser by Laerskool Nylstroom, lyk gemaklik agter die lessenaar in die hoofdekantoor by Modimolle Primary School in Phagameng.

Badenhorst is opgewonde oor haar nuwe rol by dié laerskool met sowat 1 200 leerders vanaf gr. R tot gr. 7. Sy het voorheen wetenskap en wiskunde onderrig en op Laerskool Nylstroom se beheerraad gedien. Sy het verlede jaar haar meestersgraad in onderwysbestuur voltooi en het vanjaar ingeskryf vir ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Noordwes (Potchefstroom).

“Ek is opgewonde oor die nuwe skuif en is baie lief vir my werk. Ek is Sondagaande opgewonde dat die week moet begin en Vrydae hartseer dat ek vir twee dae lank nie kan werk nie,” het sy gesê.
Modimolle Primary School het vir lank nie ’n skoolhoof gehad wat langer as ’n jaar aangebly het nie. Badenhorst hoop om nou standvastigheid by die skool te bring.

“Ek wil graag die leerders se skoolpunte verhoog en hulle ’n liefde vir lees aanleer.” As deel van dié plan wil hulle nasionale leesdag vier en foto’s van leerders met hul boeke neem. Hulle wil ook vakspesialiste nooi om die onderwysers te steun in die aanbieding van hul vakke.

“Aan die begin van die skooljaar het die kinders my ’n les of wat geleer. Ons meet tans die atletiek-afstande in die pad voor die skool uit waar ons dit afsper en ’n ‘atletiekbaan’ maak. Ons merk byvoorbeeld die 1 200 m op ’n geskatte roete uit met bakens wat ons aangebring het — hier om die asblik dan verby daardie hopie skoene en weer terug. En ja, dit is oor klippe, slote en duwweltjies. Die leerders het die taak met soveel gretigheid en geesdrif aangepak. Dit maak ’n mens nederig om dit te aanskou,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button