NewsSchools

Die Hansies laat die potte prut

Die personeel van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het mekaar op Vrydag 17 Januarie die stryd aangesê in ’n potjiekoskompetisie.

Die groot “potjiebou” het by die lapa afgeskop nadat die Hansies hul jaarlikse huissport aangebied het. Al die personeellede moes in graadverband deelneem en elke span kon ’n tema kies wat hul potjie beskryf.

Die groot pret het al vroeg in die week begin toe Gerda Swanepoel, die matrieks se spanleier, die beoordelaars wou omkoop met biltong. Dit het egter nie in hul guns getel nie en hulle het in die verloop punte afgestaan en as verloorders uit die stryd getree. Dié span se tema was Boere-Boho en hulle het ’n biltongpotjie voorberei. Hulle slagspreuk was “Boe-
re-Boho se bobaas biltongpot”.

Die gr. 11-groep het onder leiding van Gerald Marks ’n heerlike beesstertpot gemaak wat aan hulle ’n tweede plek besorg het. Hulle tema was “Karnaval” en elkeen van dié spanlede het met hul kleurvolle kostuums gelyk asof hulle van die Rio-karnaval af kom.

Lizel Swart het die gr. 10-onnies gelei en hul tema was “Rugby” met ’n smullekker kerrie-skaapskenkelpotjie. Hulle moes maar tevrede wees met ’n derde plek.

Die gr. 9-personeellede het hul vingers verbrand deur die beoordelaars te probeer beïnvloed en moes die aftog blaas met ’n vierde plek. Johanette Pretorius en haar span het opgedaag soos ware Meksikane met sombrerohoede en poncho’s en het ’n heerlik pikante hoenderpot op die tafel gesit.

Marina Gravett met haar gr. 8-span het koning gekraai en met die trofee weggestap. Die onverbeterlike hoenderpotjie, uitbundige spangees en hul “Eight, pick a mate-” tema het aan hulle die titel van beste potjie besorg.

Die kompetisie was alles in goeie gees en Rinus de Jager, nuwe skoolhoof van die Hansies, het die mooi gesindheid en goeie spangees van die personeel geloof.

Related Articles

Back to top button