NewsSchools

Ontmoet die Hansies se nuwe skoolhoof

Dit was met groot afwagting en opgewondenheid dat onderwysers en leerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong vandeesweek hul nuwe skoolhoof, Rinus De Jager, ontvang het.

De Jager was tot einde verlede jaar adjunkhoof van Hoërskool Monument in Mogale City (Krugersdorp). In ’n onderhoud met Die Pos het ’n geesdriftige De Jager gesê hy voel bevoorreg omdat hy in die pos aangestel is en dat hy baie daarna uitsien om die leisels te neem.

“My droom vir Hoërskool Hans Strijdom is om die skool verder uit te bou en om dit die nommer een spogskool in Limpopo te maak. Dit is die doel wat ek voor oë het,” het hy gesê.

Hy het ook gesê die toename in getalle by die skool is ’n aansporing om dit die mees vooraanstaande skool op alle gebiede te maak: akademie, sport en kultuur. “Ek hou nie daarvan om te stagneer nie en ek het die potensiaal in Hoërskool Hans Strijdom gesien. Dit is ’n skool met sterk tradisies. Die Hansies is trots en beginselvas en daarom sal ek my kan vereenselwig met die omgewing. Hierdie pos was my eerste keuse en ek was gelukkig om dit te kry,” het hy gesê.

De Jager is ’n taleman en het Afrikaans by Hoërskool Monument aangebied. Hy het ’n passie vir die onderwys en skroom nie om dit uit te leef nie. Hy hou baie van klassieke musiek. Sy oudste dogter, Danielle Schoeman, is ’n kunstenaar en baie betrokke in die musiekbedryf . “Ek is een van die min rugbyafrigters wat hou van klassieke musiek en veral opera,” het hy laggend bygevoeg. Hy speel ook graag gholf en is ’n passievolle jagter.

Hy is ’n boerseun van Vryheid in KwaZulu Natal. Sy ouers het met beeste en katoen geboer. Hy het in 1991 aan Hoërskool Piet Retief gematrikuleer en daarna sy BEd-graad in Afrikaans, Engels en Zoeloe aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) verwerf. Hy het ook ’n honneursgraad in onderwysbestuur verwerf.

De Jager het by Laerskool Jan Celliers, ’n bekende Afrikaanse privaatskool in Johannesburg, begin skoolhou. Daarna het hy die onderwys in Suid-Afrika vir ’n tydperk verlaat om leerders in Taiwan in Engels te gaan onderrig. Met sy terugkeer het hy sy vrou, Hanri, by Cullinan Gekombineerde Skool buite Pretoria ontmoet.

Die egpaar het vier kinders Danielle, Wilmari, MW en Tiané. Hanri is ook in die onderwys en is ’n baie bekwame Engelse onderwyser.

De Jager het in 2005 by Hoërskool Monument in Mogale City begin skoolhou waar hy bevorder is tot departementshoof van Afrikaans. Hy is later as adjunkhoof by Hoërskool Kempton Park aangestel waar hy vir twee jaar was, maar “Monnas” het hom teruggeroep en in 2014 is hy aangestel as adjunkhoof. Hy was ook koshuisvader en betrokke by talle van die skool se aktiwiteite.

Hy het aan Die Pos gesê die platteland bekoor hom en hy en sy vrou wou graag hul twee jongste kinders na die platteland bring. MW is vanjaar in gr. 8 en begin sy hoërskoolloopbaan by die Hansies. Tiané is in gr. 7 en is tans nog saam met Hanri in Mogale City totdat hulle ook na Mookgophong verhuis.

Related Articles

Back to top button