NewsSchools

Warrie-matrieks mis 100% slaagsyfer net-net

Hoërskool Warmbad se matriekklas van 2019 het die skool se slaagsyfer verbeter na 99,1%.

Die slaagsyfer was die vorige jaar 96,6%.

Paul Liddle, skoolhoof, het gesê hy is baie dankbaar teenoor sy span onderwysers, want sonder hul harde werk en toewyding sou hulle dit nie kon vermag nie.

Uit die 113 matrieks wat vir die nasionale eksamen geregistreer en dit voltooi het, het slegs een leerder nie aan die minimumslaagvereistes voldoen nie. Dié leerder het wel die kans om later vanjaar van sy vakke in die aanvullende eksamen te skryf. Altesame 75 matrieks het met universiteitstoelating geslaag, 30 kwalifiseer vir ’n diplomakursus en sewe vir ’n sertifikaatkursus. Die Warries spog vanjaar met 37 vakonderskeidings.

Twee matrieks, Christiaan Vosloo en Corné de Jonge, het buitengewoon presteer.

Christiaan het weggestap met ses onderskeidings en Corné met vyf.

Christiaan het reeds keuring gekry om aanstaande jaar medies aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) te studeer. Hy het gesê dat hy in pediatrie belangstel en hoop om in daardie rigting te kan spesialiseer.

Corné se plan is om meganiese ingenieurswese by Tuks te gaan studeer.

Hy het gesê hy het altyd ’n groot belangstelling gehad in hoe meganiese komponente in mekaar steek. Hy wou altyd items uitmekaar haal om te kyk hoe dit werk. Hy het ’n voorliefde vir fisika en wiskunde.

Gabrielle Kansay het vier onderskeidings behaal en Kayla du Pisanie en Zaheeda Saloojee elk drie.

  • Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op Dinsdag 7 Januarie die algehele nasionale slaagsyfer van 81,3% bekendgemaak. Altesame 409 906 matrieks het die eksamen geslaag.Limpopo se slaagsyfer was 73,2%. Die Vhembe Oos-distrik was die beste met ’n slaagsyfer van 81,5% slaagsyfer en die Waterberg-distrik tweede met 81,4%.

Related Articles

Back to top button