NewsSchools

Twee Hansies spog met drie onderskeidings elk

Die 2019 matrieks van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het op Woensdag 8 Januarie al vroeg by die skool opgedaag om hul uitslae te ontvang.

Die Hansie-onderwysers was ook opgewonde om die leerders finaal te groet en in hulle vreugde te deel. Die groep het altesame 17 onderskeidings verwerf. Van die 84 kandidate het 39 met universiteitstoelating geslaag, 29 met diplomas en 11 met hoërsertifikate. Hans Strijdom het die derde plek in die Waterberg-distrik behaal met ’n slaagsyfer van 94%.

Wilmari Leite het ook drie onderskeidings behaal.

Die toppresteerders van die Hansies is Jan-Daniël Swan en Wilmari Leite met drie onderskeidings elk. Jan-Daniël het onderskeidings in lewensoriëntering, fisiese wetenskap en meganiese tegnologie verwerf. Wilmari het in wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering en toerisme onderskeidings verwerf.

In ’n onderhoud met Die Pos het Jan-Daniël gesê sy sukses is te danke aan harde werk en uithouvermoë. Hy gaan vanjaar sy studies in elektromeganiese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom begin.

Wilmari beplan om ’n lugwaardin by die Emirates-lugredery te word en die wêreld plat te reis om kennis op te doen van ander lande en hul kulture.

“Deel van hul vereistes is om goeie kliëntediens te lewer en my korttermyndoelwit is om soveel moontlik kliëntedienservaring op te doen sodat ek my opleiding op 21-jarige ouderdom kan begin. Ek sien baie uit na die nuwe uitdagings wat voorlê,” het sy gesê.

Spikkels De Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom, het gesê hy is baie trots op die groep matrieks van 2019 en wens elkeen net die beste toe vir die toekoms. “’n Mens sou egter graag wou sien dat elke leerder slaag en dit demp so ’n bietjie die geesdrif,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button