NewsSchools

Hoërskool Nylstroom spog met ’n sak vol onderskeidings

Hoërskool Nylstroom het ’n sak vol onderskeidings ingeryg tydens die matriekeindeksamen.

Die Nylies se toppresteerder was Lindi Brits met ses onderskeidings in Engels eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, inligtingstegnologie en lewensoriëntering. Sy mis haar Afrikaanse onderskeiding rakelings met ’n punt van 78%.

Lindi gaan aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Miko Keulder het vyf onderskeidings op haar kerfstok nadat dié slimkop uitgeblink het in Engels eerste addisionele taal, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, inligtingstegnologie en lewensoriëntering.

Miko het keuring gekry om medies aan die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.

Karlien Bischoff het vier onderskeidings behaal in Engels eerste addisionele taal, geografie, lewenswetenskappe en lewensoriëntering. Sy gaan argitektuur aan die Universiteit van Bloemfontein studeer.

Kaiden Barthram het drie onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal en lewensoriëntering gekry. Hy gaan vir ’n graad in B.Com Bemarking aan die Universiteit van Noordwes studeer.

Aldi Serfontein het ook drie onderskeidings in Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering en toerisme.

Aldi gaan sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Carmen Schutte spog ook met drie onderskeidings in Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie. Sy pak haar tassies vir oorsese studies en gaan vir ’n BSc-graad in biologie: medies/molekulêr aan die Rogers State University in Oklahoma studeer.

Marijke Wessels het ook drie onderskeidings ingepalm in Afrikaans huistaal, lewensoriëntering en besigheidstudies. Sy gaan BCom Ekonomie aan die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom studeer.

Rochilda Barnard, Izette Beytell, Johanna du Preez, Ané Mostert, Stephan Schmidt en Melissa van Loggerenberg het elk twee onderskeidings gekry. Nog 14 leerders het elk een onderskeiding gekry.

Hoërskool Nylstroom se slaagsyfer is 91,86%, ’n verbetering op verlede jaar se slaagsyfer. Daar het altesaam 123 leerders matriekeksamen geskryf en hulle het 53 onderskeidings bymekaar gemaak.

’n Trotse skoolhoof, Anton du Plessis, het die ouers, leerders, onderwysers en die departement van onderwys op die skouers geklop vir wat hulle in 2019 vermag het. “Ons is baie trots op elkeen van die leerders! Hulle harde werk agter die boeke is goed beloon,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button