NewsSchools

Skoolhoof roep onderwys ná 43 jaar vaarwel toe

“Dit voel glad nie asof ek so lank hier was; die tyd het gevlieg. Dit was heerlik om hier skool te hou ten spyte van tye wat moeilik was.”

Skoolhoof Isabel Boshoff ruim dié vakansie, ná vier dekades by Susan Strijdomskool, haar kantoor op.

Op 65-jarige ouderdom is dit tyd om af te tree, het sy aan Die Pos gesê.

“Dit voel glad nie asof ek so lank hier was; die tyd het gevlieg. Dit was heerlik om hier skool te hou ten spyte van tye wat moeilik was,” het sy gesê.

Boshoff het as bloedjong onderwyseres by die skool aangekom. “In die tyd dat ek hier was, is ek getroud en het my kinders grootgemaak — ’n hele leeftyd. Die skool het deel van my lewe geraak.”

Boshoff het in Junie ’n spesiale vergunning van die departement van onderwys ontvang nadat die arbeidshof in haar guns beslis het dat sy ’n verdere ses maande lank kan aanbly as skoolhoof. Die departement se vereiste aftreeouderdom is 65 jaar.

Boshoff se tyd by die skool was nie net maanskyn en rose nie. Sy het ’n vyfjaarlange stryd gevoer om as skoolhoof aangestel te word. Sy het in 2011 aansoek gedoen om die pos terwyl sy onderhoof van die skool was.

Die beheerliggaam het egter iemand anders aanbeveel, ten spyte daarvan dat sy beter gekwalifiseer was en meer as 34 jaar ervaring gehad het, het sy gesê. In die hofsake wat gevolg het, is getuienis aangehoor van beweerde ongerymdhede in die aanstellingsproses. Sy is in 2016 uiteindelik as skoolhoof aangestel.

“Ek werk saam met ’n ongelooflike groep lojale mense. Die personeelkorps se ondersteuning is iets wat my altyd sal bybly. Ons het deur die jare soveel lief en leed gedeel, soos met een van ons onderwysers, Rudie Hattingh, se onverwagse afsterwe. Ons het nou ’n fantastiese beheerliggaam — ek kan net met lof van hulle praat.”

Die huidige adjunkhoof, Johanna Monyebodi, sal waarneem totdat ’n skoolhoof aangestel is.

Wat 2020 vir haar inhou, weet Boshoff nog nie. “Ek het nog glad nie so ver vooruit beplan nie,” lag sy.

“Ek het vir my ’n huis in Bosveldsig-aftreeoord in die dorp gekoop. My kinders het hul eie lewens en ek gaan nie agter hulle aan trek nie.”

Haar seun, Werner Boshoff, en dogter, Marthie Joubert, woon darem naby genoeg in Pretoria en haar jongste, Jolanie Boshoff, is ’n onderwyser in Meyerton.

Boshoff sê een van haar stokperdjies is laslappiewerk, maar enigeen wat dié dinamiese vrou goed ken, vermoed dat sy nie vir lank gaan stilsit nie.

Related Articles

Back to top button