NewsSchools

Oud-Hansie wen musiektoekenning

Die musiekwêreld wink vir ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong nadat hy ’n Limpopo-musiektoekenning ontvang het.

Die 25-jarige Baldwin Hlongwane het op Saterdag 19 Oktober ’n Limpopo Music Award, oftewel ’n Lima-toekenning, ontvang tydens ’n geleentheid by die Meropa Sun buite Polokwane. Sy toekenning was vir “Best Collaboration Artist”.

Hlongwane se verhoognaam is Baldwin Kay en hy het al by verskeie feeste opgetree. Dié talentvolle jong kunstenaar het homself geleer kitaar speel en sing. Sy eerste video is in sy Engelse klas deur sy onderwyser, Marietjie Steenkamp, opgeneem en in 2014 op YouTube geplaas. Hy het in 2015 die Hansies Got Talent-kompetisie by die skool gewen. Dié eerste plek, het hy gesê, het ’n groot invloed gehad op sy selfvertroue en musiekloopbaan.

Hlongwane is ná die Lima-toekennings uitgenooi om om deel te wees van ’n toer na Mosambiek waar hy saam met ander kunstenaars van 21-27 November in Maputo en Bilene sal optree. Hy sien baie uit na die nuwe blootstelling in die buurland.

Die jong musikant skryf sy eie musiek in Sepedi en Engels. Hy beoog om aanstaande jaar ’n nuwe album vry te stel. Hlongwane is in aanvraag vir optredes by troues en het al by nie min-
der nie as 98 geleenthede opgetree. Sy eerste treë in die vermaaklikheidswêreld was as kletsrymer, maar hy het later populêre musiek begin skryf en sing. Hy gebruik nou nog sy eerste akoestiese kitaar wat hy in 2012 gekoop het. Deesdae sing hy “African Soft Rock” wat baie gewild is.

Verskeie radiostasies het al onderhoude met Hlongwane gevoer en sy gewilde liedjie “Ke mmone” word gereeld oor die radio gehoor.

Hlongwane se musiek het al vantevore pryse losgeslaan. Hy is in 2017 aangewys as “Best Sepedi Afro Pop Artist” en vir “Best Song” tydens die Sepedi Music Awards. Hy het in dieselfde jaar tydens die Limpopo Music Awards tweede geëindig as “Best Jazz Hit”.

“Ons wens vir Baldwin net die beste toe met sy loopbaan,” het Riana Potgieter, ’n onderwyser by die hoërskool, gesê.

Related Articles

Back to top button