NewsSchools

Hansies spog met splinternuwe pragteater by skool

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong spog met ’n nuwe toevoeging tot die skool se uitgebreide geriewe.

Die Strijdom-teater is die breinkind van Gerda Swanepoel, kultuurhoof van die skool.

Die spoggerige teater is op Donderdag 3 Oktober met ’n program van keuritems deur die talentvolle leerders van die skool geopen.

Die 60 uitgelese gaste het elke item terdeë geniet en een van die gaste het spottenderwys gevra of sy ’n “seisoenkaartjie” kan koop.

Swanepoel het in die verwelkoming gesê sy het haar liefde vir kultuur by haar ma gekry. Die doel van die teater is om meer geleenthede vir leerders en lede van die gemeenskap te bied om die gemeenskap met hul talente te vermaak.

Heima Pretorius, Fanie van Vuuren en Allanah Cawood van die skool se drama-akademie het poësie en prosa voorgedra. Skye Bester en Zanelle Möller, albei in matriek, en Rochelle Ruthven (gr. 8) het van hul opstelle wat in die eksamen geskryf is, voorgelees.

Johanette Pretorius was die seremoniemeester en het ’n oudleerder, Cecelia Pauer, se opstel voorgelees. Nog ’n talentvolle matrikulant, Daniël Buys, het sy vaardigheid op die klavier gewys en die gaste het die uitvoering baie geniet.

Die hoogtepunt van die aand was die optrede van die oud-Hansie, Annemarie Mailovich. Sy is ’n derdejaarstudent en ’n mezzosopraan van formaat. Haar ryk stem en puik vertolking het die gehoor bekoor.

Spikkels de Wet, waarnemende hoof van die skool, het gesê hy is trots op die talente van hul leerders en sien uit na die volgende uitvoering.

Swanepoel het al die borge wat ’n bydrae gelewer het bedank en hulle geloof vir die ondersteuning om dié droom te verwesenlik.

Related Articles

Back to top button