NewsSchools

Gewilde ‘Mnr. Hempies’ lê die tuig ná 25 jaar neer

Die wekker op Hempies du Preez se bedkassie sal op Vrydag 1 November vir die eerste keer in 25 jaar nie op ’n weeksoggend skril skree nie, maar tjoepstil bly.

Ná ’n kwarteeu aan die stuur van Laerskool Nylstroom as skoolhoof, tree Du Preez aan die einde van Oktober af om ’n welverdiende ruskans te geniet.

Die Bosveld, sê hy, is egter in sy bloed en hy bly net hier in Modimolle in ’n huis in Bosveldsig.

Du Preez en sy vrou, Rensche, het in November 1993 in die hoofdehuis langs die skool ingetrek en vir twee dekades hul lewens aan die skool gewy. Rensche het tot in 2014 as gr. 1-onderwyser skoolgehou.

Dit is nie maklik om ’n mens se lessenaar ná soveel jaar skoon te maak nie, bieg hy. Hy is egter gerus dat hy die skool en die leerders wat hom so na aan die hart lê in bekwame hande laat.

Roelf Vorster, adjunkhoof, sal waarneem totdat ’n aanstelling gemaak word. Hy doen ook aansoek vir die pos as hoof.

“Ek werk al 25 jaar lank by hierdie skool saam met Roelf en hy is baie bekwaam. Die lojale en geesdriftige personeelkorps sal ook hul beste gee om die skool se pas vol te hou,” het hy gesê.

Du Preez kom uit ’n familie wat wemel van die onderwysers. Nie net gee sy dogter Cheré en haar man, Fanie Viviers, skool by Laerskool Eenheid nie, maar sy twee susters en broer deel dieselfde loopbaan. “My een suster is nou 77 jaar oud en gee steeds onderrig aan ’n privaat skool in Bloemfontein,” vertel hy. Onderwys, glo hy, is ’n leefwyse. “Mens kan nie jou skool apart van jou eie lewe hou nie; die twee is vervleg. Anders gebeur dit dat jy óf jou eie familie óf die personeel, óf die kinders en hul ouers afskeep.”

“Ek voel ongelooflik trots en is gelukkig met wat ek in die onderwys beleef het. Ek wil nie een oomblik daarvan verander nie. ’n Mens het dit wat goed én sleg was, geleer. ’n Positiewe uitkyk is deel van ’n mens se werksetiek,” het hy gesê.

Van die hoogtepunte was toe die skool gekwalifiseer het vir ’n adjunkhoofpos en toe ses nuwe klaskamers aangebou kon word.

“Ek gaan die kinders ongelooflik baie mis. My tyd saam met hulle is iets wat ek lank in my lewe sal koester.”

Hy en Rensche gaan in Januarie die Oos-Kaap verken. “Die buiteseisoenpryse vir pensioentrekkers is goedkoop,” lag hy. Daarna, skat hy (tong in die kies), sal dit hom so ses maande neem om sy motorhuis te organiseer. Hy is nog nie seker waarmee hy homself daarna gaan besig hou nie. “Skoolhoofde doen mos altyd houtwerk as hulle afgetree het. Ek dink nie ek gaan houtwerk doen nie!”

Een ding belowe hy plegtig: met of sonder uitnodiging sal hy tydens sportbyeenkomste op die skoolpawiljoen sit. Of dit nou net as toeskouer of as oupa is, maar steeds ’n Nylie in murg en been.

Related Articles

Back to top button