NewsSchools

Klein Hansies hou fees

Die kultuurfees wat die eerste week in Augustus deur Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong aangebied is, is elke jaar ’n hoogtepunt op die kultuurkalender.

Vanjaar was daar weer uitsonderlike prestasies wat deur die beoordelaars toegeken is. Dit verg heelwat selfvertoue om die moed bymekaar te skraap en deel te neem voor ’n paneel beoordelaars en ’n stampvol gepakte skoolsaal. Daar was vanjaar heelwat andersoortige items soos ’n slagorkes en ’n kerkkoor wat deelgeneem het.

Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong se junior koor het vanjaar 88% tydens die skool se kultuurfees behaal. Hier staan die koor trots in hul koordrag saam met hul afrigter, Bessie Buys.

 

Die kultuurfees bestaan uit twee afdelings, naamlik woord- en toonkuns. Die toonkunsbeoordelaar was Celeste Küzel van Centurion Musiekstudio en die woordkuns is deur Belinda Systermans beoordeel. Albei die vroue het die deelnemers met goeie raad bygestaan.

Die deelnemers was hoofsaaklik uit Laerskool Nylstroom, Hoërskool Warmbad se musieksentrum, die Euphorbiaskool, Laerskool Eugène N. Marais, Wonderland Kleuterskool, Fantastique Dramaskool onder leiding van Annelie Scherman en ’n paar volwassenes uit die Mookgophong-gemeenskap.

Bessie Buys, onderwyser van die skool, reël jaarliks die geleentheid. Die saal is pragtig en oorspronklik versier en alles — van die beoordelaars, toekenningsertifikate, teetye, verversings tot die ordereëlings — het getuig van niks minder nie as “hoogste lof”, sê diegene wat die fees bygewoon het.

Kore en sanggroepe wat deelgeneem het, het ook besonder goed gevaar. Laerskool Nylstroom se juniorkoor het 90% (hoogste lof) behaal, Laerskool Eugène N. Marais se juniorkoor 88% (A+), die NG-kerkkoor 85% (A) en Laerskool Eugène N. Marais se seniorkoor 88% (A+).

Related Articles

Back to top button