NewsSchools

Redenaars praat hond uit ’n bos

Redenaars uit die Waterbergstreek het weer die afgelope week na Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gestroom vir die jaarlikse streekuitdunronde van die ATKV se gewilde redenaarskompetisie.

Die kompetisie word sedert 2017 by die Hansies aangebied en strek oor twee dae.

Johanette Pretorius, onderwyser by die Hansies, het oudergewoonte aan die stuur van sake gestaan en gesorg dat die reëlings seepglad verloop.

Die ATKV bied die kompetisie vir laer- en hoërskoolleerders van gr. 1-12 aan vir Afrikaans huistaalsprekers en Afrikaans eerste addisionele taalsprekers. Redenaars moet voorbereid en onvoorbereid aan die kompetisie deelneem.

Daar was 213 sprekers wat deelgeneem het waarvan 80 deurdring na die halfeindronde wat op Vrydag 24 Mei ook by Hans Strijdom plaasvind.

Die 80 redenaars van die noorde-like Limpopo-streek sal dan op Vrydag 24 Mei saam met die 80 deelnemers van die suidelike streek aan die semifinale ronde deelneem om die Limpopo-span saam te stel. Slegs twee sprekers in elke ouderdomsgroep en elke kategorie sal aangewys word om Limpopo by die nasionale kompetisie te verteenwoordig. Namibië het ook ’n span wat saam met die nege provinsies in die finale ronde sal meeding.

Volgens Pretorius is sy verras met die toename in deelnemers in die afdeling vir eerste addisionele taalsprekers en het sy hulle toesprake baie goed gevind.

“Die beoordelaars was oor die algemeen baie beïndruk met die leerders se vermoë om hul standpunte duidelik te stel en die taalgebruik was baie keurig. Die onvoorbereide sprekers kon hulle standpunte goed stel en het goeie Afrikaans gebruik,” het sy gesê.

Daar was vanjaar 15 beoordelaars uit Limpopo. Die ATKV gee temas vir elke ouderdomsgroep. Die uitslae sal binne die volgende vyf dae op die ATKV se webwerf beskikbaar wees.

Related Articles

Back to top button