NewsSchools

Wonderland kleuters hou atletiek

Wonderland Kleuterskool in Mookgophong het op Vrydag 8 Maart hul jaarlikse interkleuterskole-atletiek op die atletiekbaan van Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong aangebied.

Wonderland Kleuterskool is ’n gemeenskapskleuterskool wat in 1980 deur die kerke in Mookgophong gestig is. Hulle vier op Woensdag 14 Augustus hul 39ste verjaardag.

“Ons eerste sportdag is in Maart 2010 tydens die eeufeesvieringe van die dorp gehou,” het Annemarie Mailovich, hoof van die skool, gesê.

Die eerste jaar was daar slegs drie skole betrokke en 80 kleuters het deelgeneem.

Vanjaar het daar vyf kleuterskole aan die sportdag deelgeneem en was daar nie minder nie as 180 deelnemers. Die deelnemende skole was Wonderland, Babbelboompies, Lanie’s Pikkewyne, Simba en Nala en Elkana.

Die jongste deelnemers is o.2 en oudstes is o.6 en in gr. R. Die gr. R’e het meegeding in hekkies, naellope, banderol en spiesgooi.

Die o.3-, o.4- en o.5-leerders het deelgeneem aan die naellope, gewigstoot, banderol en skopfietswedrenne.

Die babas o.2 het meegeding aan die naellope, gewig-stoot en bal skop. Die eerste drie plekke in al die onderskeie ouderdomsgroep het elk ’n medalje ontvang.

“Vanjaar het ons ook ons beste gr. R-meisiesatleet, Queen Masenya, en beste seunsatleet, M.J Brits, met ’n trofee vereer,” het Mailovich aan Die Pos gesê.

Albei is leerders van Wonderland Kleuterskool.

Mailovich het geesdriftig vertel dat hul met die 10de bestaansjaar beplan om ’n byeenkoms te reël wat buurdorpe se kleuterskole insluit.

Ons wil graag aan ons borge dankie sê vir hul bydraes wat dit moontlik gemaak het om kleutersport te ontwikkel en goeie sportmangees te kweek.

Related Articles

Back to top button