NewsSchools

Hansie-onnie lê die tuig neer

Dirk Oosthuizen, ’n geliefde onderwyser aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het besluit om die tuig ná 38 jaar in die onderwys neer te lê.

Sy laaste skooldag was op Donderdag 31 Januarie.

Oosthuizen het in Sabie in Mpumalanga groot geword. Sy ouers het later na Duiwelskloof verhuis. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool BenVorster in Tzaneen begin, maar ná slegs een kwartaal het die gesin na Witrivier verhuis. Hy het sy skoolloopbaan in 1975 aan Hoërskool Rob Ferreira voltooi.

Oosthuizen het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) studeer en in menslike beweegkunde en geskiedenis gespesialiseer. Ná die voltooiing van sy studies is hy Weermag toe en in 1981 is hy met sy skoolliefde, Marina Strydom, getroud. Hy het sy onderwysloopbaan in 1983 by Hoër Tegniese Skool Middelburg afgeskop.

Die gesin het einde Desember 1990 na Mookgophong verhuis en in Januarie 1991 het hy by die Hansies ingeval as departementshoof van opvoedkundige leiding. Hy is veral bekend in rugbykringe waar hy reusespore as afrigter en ook op bestuursvlak gespeel het en is ook baie lief vir hokkie en karate.

“In my 28 jaar by die Hansies het ek as spiesgooi-afrigter meer as 30 atlete gehad wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het,” het hy trots vertel.

Oosthuizen het ook ’n voorliefde vir die natuur en jag graag.

Hy het ’n groot versameling bonsaibome en ’n uitgebreide orgidieëkwekery. Dié liefde het hy van sy ma gekry en hy het al op skool daarmee begin.

Hy is al 36 jaar lid van die Suid-Afrikaanse-orgidieëvereniging.

Sy oudste bonsai-boompie is ’n olienhout wat 36 jaar oud is.

As onderwyser was hy geliefd onder sy kollegas en leerders. “As jy jou kundigheid kan oordra en jy kry dit terug in die vorm van ’n dankie of ’n kind wat presteer, is dit alles die moeite werd. Moenie sit en wag vir iemand om iets te doen nie, doen dit sommer self, want dan voel jy produktief,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy droom om nou in Namibië te gaan toer en terug te keer na die Spitskoppe waar hy 30 jaar gelede was.

“Ons sal Dirk en al sy talente baie by die Hansies mis,” het Gerda Swanepoel, ’n jarelange kollega, gesê.

Related Articles

Back to top button