NewsSchools

Hansies ervaar Duitse kultuur tydens vakansie

“Dit was heeltemal anders en die leerders is baie gedissiplineerd en stiptelik. Daar is geen klokke wat lui nie en elkeen is op sy plek en op tyd.”

Drie leerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het die afgelope Desember-vakansie in Duitsland deurgebring as deel van ’n studente-uitruilprogram.

Skye Bester, hoofmeisie van die skool vir 2019, en twee gr. 11-leerders Ammie De Swardt en Christa Strauss, was deel van Friends of South-Africa (FSA) se leerderuitruilprogram. Hulle moes verskeie toetse aflê om hul kennis oor Suid-Afrika en Duitsland te toets. Om te kon kwalifiseer vir dié program verg baie wye algemene kennis en navorsing. ’n Ander vereiste is dat kandidate vlot Engels moet kan praat en kan optree as ambassadeurs vir Suid-Afrika.

Daar was 123 kandidate wat aansoek gedoen het en 73 is gekies om vir ’n maand in Duitsland te kuier. Skye het op nasionale vlak die tweede beste gevaar in die toetse en was eerste in Limpopo. Volgens haar was dit vir haar ’n proses waar sy nie net meer van die Duitse kultuur geleer het nie, maar ook meer van haarself.

“My Duitse gesin was baie goed vir my en het baie moeite gedoen om my meer van hul kultuur en tradisies te wys en my te laat ski. Ek het my knie beseer en hulle het baie mooi na my gekyk,” het sy vertel.

Skye se uitruilgesin woon in die Bavaria-gebied en sy het ses dae skool toe gegaan.

“Dit was heeltemal anders en die leerders is baie gedissiplineerd en stiptelik. Daar is geen klokke wat lui nie en elkeen is op sy plek en op tyd,” het sy gesê. Dit was die eerste keer dat sy alleen gereis het en ook haar eerste keer oorsee.

“Ek sal dit beslis vir enigeen aanbeveel, want dit is ’n ervaring wat jou leer om selfstandig te wees en besluite te neem en ook geduldig te wees,” het sy aan die Pos gesê.

Vir Christa, wat in Plettenberg by ’n gesin tuisgegaan het, was die besoeke aan die kastele en katedrale ’n hoogtepunt. Sy hou baie van geskiedenis.

“Ek het baie gesien en ervaar en het al die tradisionele kos geproe. Dit was ongelooflik en ’n baie groot ervaring. En ek het geleer om baie netjieser te wees!” het sy gesê.

Ammie was by ’n gesin in Olpe en het die argitektuur van al die geboue baie interessant gevind. “Ek stel belang in argitektuur en het baie vrae gevra oor die pragtige ou geboue. Die woud was agter ons en ek kon elke dag gaan stap sonder om onveilig te voel,” het sy vertel.

Vir al drie was dit ’n wit Kersfees met baie Duitse tradisies.

Related Articles

Back to top button