NewsSchools

Hansies vaar die beste in Die Pos se lesersgebied

Die matrikulante van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het op Vrydag 4 Januarie al vroeg by die skool opgedaag om hul uitslae te ontvang.

Die Hansies se onderwysers en waarnemende hoof, Spikkels de Wet, was daar om in die vreugde te deel. Die groep het ’n totaal van 40 onderskeidings behaal. Van die 73 kandidate het 46 (64,78%) met universiteitstoelating geslaag, 17 (23,94%) met ’n diploma en 8 (11,26%) met ’n hoërsertifikaat. Hoërskool Hans Strijdom het die derde beste in die Waterberg-distrik gevaar met ’n 97,26%-slaagsyfer. Slegs Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi en Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal kon die Hansies klop.

Die toppresteerders van die Hansies is Cecelia Pauer met ses onderskeidings, Lodewyk Koch met vyf onderskeidings en Anzelle Pretorius en Melissa Nel wat elk vier onderskeidings behaal het. Lee-Anne Denton het drie onderskeidings gekry.

Lodewyk Koch het onderskeidings in wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap en fisiese wetenskap behaal.

In ’n onderhoud met Die Pos het Cecelia gesê haar sukses is te danke aan harde werk en uithouvermoë. Haar raad aan matrikulante is om hard te werk en nie moed te verloor nie. Sy begin haar studies in aptekerswese vanjaar aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Anzelle Pretorius se A’s was in lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap en fisiese wetenskap.

Lodewyk se kop staan ook aptekerswese toe en hy werk tans by ’n apteek in die dorp. “My droom is om sukses te behaal in wat ek doen. Ek is dankbaar teenoor die Here dat ek tot hier gekom het. Sonder Sy genade sou ek dit nie kon doen nie. Om sukses te behaal, moet jy hard werk en deurdruk, ongeag die omstandighede,” het hy aan Die Pos gesê.

Melissa Nel spog met A’s in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering en besigheidstudies.

Anzelle gaan haar studies by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) begin met ’n graadkursus in BSc Biologiese Wetenskappe en daarna wil sy graag verder in ’n mediese rigting studeer. Sy is ook ’n kranige krieketspeler wat vir die Limpopo-span gekies is.

Melissa gaan Forensiese Rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer en in die Wanda-koshuis bly. “As jy hard werk, sal jy beslis die vrugte daarvan pluk,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button