NewsSchools

Heino het groot planne met groentetuine

Heino het gesê dat hierdie projek ’n diens is wat leerders aan hul klasmaats wat minder bevoorreg is, wil lewer.

’n Leerder aan Hoërskool Warmbad het groot planne om groente aan behoeftige leerders van die skool te voorsien en hulle te bemagtig om deel te wees van die aanplant van groentetuine.

Heino van Graan (15), stigter van die Gr. 9A Groen Groente Groep, het aan Die Pos vertel hul mikpunt is om behoeftige leerders aan te moedig om bestaande hulpbronne tot hul voordeel te gebruik.

“Die werklike hulpbronne is die leerders, die ouers, grond, water en son. Die doel is om drie kleinerige groentetuine in die omgewing aan te plant wat deur die leerders onderhou sal word,” het Heino gesê.

“Altesame 90% van die opbrengs sal aan die skool se voedingskema gaan en 10% aan ’n projek of persoon buite die skool — waarop die leerders moet besluit.”

Heino het gesê dat hierdie projek ’n diens is wat leerders aan hul klasmaats wat minder bevoorreg is, wil lewer, asook aan die wyer skoolgemeenskap deur hulle te leer om groentetuine aan te plant, dit te onderhou en wins daaruit te maak.

Heino het reeds sy idee met Sello Michael Makhubela, die Bela-Bela-munisipaliteit se munisipale bestuurder, bespreek.

Makhubela was tydens Heino se besoek beïndruk met die projek en het gesê hy sal dit ondersteun, sê Heino.

“Die grootste uitgawe is die aankoop van tuingereedskap, groentesaad of -plante. Indien die projek by die skool voortgesit kan word, sal ons minder uitgawes hê,” het Heino gesê.

Die vennote van die projek is op hierdie stadium die leerders, Esti Henn (onderwyser), Paul Liddle (skoolhoof), ouers en donateurs wat hierby betrokke wil raak, het Heino gesê.

“Die plan vorentoe is om die projek na ander skole uit te brei wat ook behoeftig is en om hulle touwys te maak oor hoe om groentetuine ’n aanwins te maak.”

Belangstellendes kan vir Heino bel of WhatsApp by tel. 063 474 4245 met idees of borgskappe.

Heino het vroeër vanjaar soortgelyke projekte saam met Hoërskool Warmbad, Gift of the Givers en AfriForum aangepak waar daar onder meer waterbottels en natlappies (wet wipes) na die Kaap, wat vroeër vanjaar ’n groot watertekort gehad, gestuur is.

Related Articles

Back to top button