NewsSchools

WarrieBiB bied baie vir boekwurms

’n Goeie boek is die beste medisyne vir die koue winter en die WarrieBiB by Hoërskool Warmbad se rakke is propvol goeie lekkerleesmedisyne.

Die biblioteek, wat oop is vir inwoners, het skenkings ontvang, asook nuwe boeke aangekoop.

Die rakke spog met boeke van top-Afrikaanse en Engelse skrywers. Vir volwassenes is daar onder meer boeke van Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Irma Joubert, Daleen Matthee, Chanette Paul, Marita van der Vyver, Leon van Nierop en Wilna Adriaanse. Diegene wat verkies om Engels te lees, kan kies uit onder meer Karen Kingsbury, Francine Rivers, Nora Roberts, Jodi Picoult, Dan Brown, David Baldacci, Nicholas Sparks en die gewilde Jojo Moyes.

Tieners is natuurlik ook welkom om te gaan inloer. Tieners kan die volgende reekse daar kry: Diary for a Wimpy kid, Harry Potter, Percy Jackson, Divergent, Twilight, Hunger games, Maze runner, die Roald Dahl-boeke, Saartjie- en Trompie-boeke, asook die Thomas@-reeks.

Die Spud-boeke, Jan Vermeulen se Asem, die gewilde The fault in our stars (Afrikaans ook beskikbaar), Mirror Mirror deur Cara Delevingne en die Goosebump-boeke kan ook uitgeneem word. Die WarrieBiB het voorts heelwat niefiksie op hul rakke.

Almal is welkom om boeke uit te neem. Die biblioteek is Maandae, Dinsdae en Donderdae van 13:30-15:00 oop en op Woensdae van 13:30-17:00. Die aansluitingsfooi is R50 en daarna kos dit R5 per boek wat uitgeneem word. Hierdie geld word gebruik om nuwe boeke aan te koop.

Volg gerus die WarrieBiB op Instagram om te sien watter nuwe boeke daar is. Vir meer inligting skakel die skool by tel. (014) 736 2166.

Related Articles

Back to top button