Local newsNews

Rookbolle oral waar jy kyk

Inwoners is dit eens dat hulle die Waterberg nog nie só wyd sien brand het soos die afgelope seisoen en meer nóg hierdie week nie.

Verskeie veldbrande het die afgelope week uitgebreek en groot skade aangerig. Die veld is snuifdroog en die dae was warm – die winde wat opgesteek het, het die vlamme aangevuur. Die bergagtige omgewing het brandbestryding bemoeilik.

Brandbestryders het lang en ongenadige ure spandeer om die vlamme te probeer blus en verdere skade te verhoed. Die groot hoeveelheid brande wat tegelykertyd gewoed het, het veroorsaak dat brandspanne en toerusting soms dun gesaai was om oral by te kom.

Op Maandag, 30 September was brandbestryders druk besig om vlamme te blus buite Modimolle by Bush Lovers Lodge en Groenfontein in die Alma-omgewing.

Dit terwyl daar ook ’n brand by Renosterfontein gewoed het en in die Vaalwater-omgewing by Shambala Private Game Lodge, Matingwe Lodge en by Mooimeisiesfontein. Dinsdag was daar ook brande naby Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela en op die Eersbewoondpad tussen Modimolle en Bela-Bela.

Benewens twee wonings wat afgebrand het op Rietspruit net buite Modimolle, het Yakol Adventures op die Driefonteinpad, ook groot skade gely. Volgens Louis Collins het tien chalets, hul groot lapa by die dam en ablusiegeboue afgebrand. “Ons het die rook gesien aankom en het probeer keer.

Daar is egter niks wat daardie brand stop as dit spoed vang nie. Die wind was ook sterk en die vuur maak nog meer wind. Dit is ’n hulpelose gevoel om te sien hoe dit gebeur en ’n mens kan niks daaraan doen om dit te verhoed nie,” het hy gesê.

Die spanne van die brandbestrydingsverenigings, sowel as Werk met Vuur (WoF), boere en inwoners het uur na uur spandeer om te keer dat die brande verder versprei. Werk met Vuur se helikopter is ook ingespan om die brande in die Bela-Bela-omgewing te help blus.

Pieter Snyman se plaas in die Alma/Rankinspas-omgewing het heeltemal afgebrand.

“Daar het ’n rukwind van 60 km per uur opgesteek. Dit is onmoontlik om daardie vlamme te keer as dit op jou afstuur en dit klim maklik oor enige pad,” het hy gesê. Hy het nie ge-boue verloor nie, maar weiding, drade, hekke, besproeiingstoerusting en ander infrastruktuur.

Koos Pretorius, wat deel van die brandspanne by Driefontein was, vertel dat die vuur selfs sover as 30 meter bloedig warm was. “Groot dank aan elkeen wat drinkgoed en kos vir die vuurslaners gestuur het.

Ek dink nie mense besef hoe welkom is dit as ’n mens so lank werk nie,” het hy gesê.

Die professionele jagtersvereniging (Phasa) het ook ’n beroep op lede gedoen om vee- en wildboere te help wat weiding verloor het.

Volgens Willem Crause van die Modimolle-brandbestrydingsvereniging was die brande teen Dinsdagaand onder beheer. Duisende hektaar het afgebrand, maar die omvang van die skade sal eers later bereken kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button