Local newsNews

Kernkrag-tegnologie kan stroping hokslaan

In ’n unieke poging om die stroping van renosterhorings hok te slaan, het die Universiteit van die Witwatersrand onlangs ’n nuwe metode op die proef gestel in ’n poging om die stroping van dié bedreigde diere te bekamp.

Die projek is in die Waterberg geloods. Die Rhisotope-projek gebruik kernkragtegnologie deur radio-aktiewe-isotope in renosterhorings in te plant.

Volgens Jessica Babich, van die Rhisotope-projek, behels dit die inplanting van baie klein afgemete dosisse radio-isotope in die renosters se horings.

Daar is wêreldwyd nagenoeg 11000 radiasie monitors aangebring by veral lughawens, hawens en grensposte. Die monitors is ingestel om die kleinste hoeveelhede radioaktiewe stof te kan identifiseer en alarm te maak.

Die doel van die Rhisotope-projek is dan om hierdie monitors te benut om die radioaktiewe isotope wat nou in rensoterhorings ingeplant is, op te spoor.

Die projek is geloods in samewerking met prof. James Larkin, ’n kernkrag sekuriteitspesialis en die Universiteit van die Witwatersrand.

In ’n proeflopie is 20 renosters in die UNESCO Waterberg Biosfeer Reservaat buite Vaalwater met hierdie inplantings toegerus en sal hulle vir die volgende ses maande goed gemonitor word.

Die proses is pynloos vir die diere en wetenskaplike navorsing wys dat daar geen newe effekte op die diere is nie.

Volgens Babich mag niemand in besit wees van enige radioaktiewe stof nie en hierdie element voeg dan ’n hele nuwe dimensie tot die klagtes waarvoor ’n verdagte aangekla kan word as hy in besit betrap word met renosterhorings wat met radio-aktiewe-isotope toegerus is.

Hopelik sal dit die skuldigbevindings vergemaklik en die vonnis termyne verhoog vir oortreders.

Die handel in wilde diere en hul produkte is die derde grootste georganiseerde misdaad wat ter wêreld bedryf word, en daar sterf gemiddeld elke 20 uur ’n renoster in Suid-Afrika. In 2023 is 499 renosters gestroop in Suid-Afrika, waarvan 59 in Limpopo was.

Vir die eerste ses maande van 2024 is daar reeds 229 gevalle landswyd aangemeld.

Die uiteindelike doel is dan om die projek uit te brei sodat elke renoster so ’n inplanting kan ontvang.

Indien die projek suksesvol is hoop Babich om ook olifante, ietermago’s, broodbome en ander fauna en flora op dieselfde wyse te kan merk.

Dit sal ’n reuse bydrae lewer tot die bewaring van ons natuurlike erfenis.
Die moniteringstydperk duur tot einde Januarie 2025

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button