Local newsNews

Veldbrand laat wonings in puin

Alles is as. Die ringnek in sy hok, al die klere, die meubels, die foto’s en die houttafeltjie wat Oupa met die hand gekerf het.

Jaybee en Carien Booyse het vanoggend (Dinsdag 30 September) nog herstel van die skok na die vlammehel wat hulle die vorige dag op hul plaas in Rietspruit buite Modimolle deurgemaak het. Jaybee is laatoggend uit die F.H Odendaal-hospitaal ontslaan, waar hy opgeneem was ná bekommernis oor sy hart.

JP Hattingh en Mouriché Booyse staan voor die karkas van die uitgebrande plaashuis.

Sy doodsbenoude stemboodskappe op noodgroepe het talle inwoners aan die hart gegryp. In daardie stadium was die egpaar vasgekeer langs hul huis wat brand en het hulle min uitkoms gesien. Hy het ook ’n boodskap aan sy familie gestuur om te groet.

Tydens Die Pos se besoek het Mouriché Booyse, Jaybee se suster, vertel wat gebeur het. Carien, wat steeds getraumatiseer is na die dag se gebeure, het moedeloos deur die as gekyk of daar iets te redde is.

Die toegangspad na die plaas kronkel verby die reservoir by Phagameng en die agterkant van uitbreiding 10. Die Booyse’s se grasdakhuis, wat aan die voet van ’n koppie geleë is, is nie die enigste wat deur die vlamme verwoes is nie.

JP Hatting en Nickey Mouriché Booyse staan voor die karkas van die uitgebrande plaashuis.

“Die huis was reeds aan die brand en digte rook het veroorsaak dat hulle nie veel kon sien nie. Jaybee het vir Carien geskree sy moet uit die huis kom toe dit begin brand. Hulle het die vlamme tevergeefs probeer blus. Sy sê haar tablet het op die tafel voor haar gelê en dit was al wat daar tyd was om te gryp,” het Mouriché gesê.

Die groot bome om die huis het aan die brand geslaan en boomtakke het oor die erf en oor die pad geval. “Hulle het deur die vlamme in die grondpaadjie afgejaag om weg te kom. By sekere plekke moes hulle bo-oor takke en stompe ry.” Die oomblik toe Mouriché haar broer se benoude stemboodskap kry het sy plaas toe gejaag. Sy is saam met hulle in die voertuig in en kon dadelik sien dat Jaybee nie reg lyk nie. “Hy het flou geword terwyl hy bestuur het.” Met die hulp van ander mense wat hulle te hulp gesnel het, kon hulle hom oorskuif en hospitaal toe haas. “Hy het die laaste maand twee ligte hartaanvalle gehad. Die spanning het hom gister gevang en hy het hartkrampe gekry.”

Die Booyse het nie tyd gehad om hul diere te laai nie. Behalwe vir een hond wat weg is, is die res ongedeerd. Carien se ringnek wat sy met die hand groot gemaak het, het doodgebrand. Die plaasdiere het die volgende oggend op die verskroeide erf rondgeloop asof niks gebeur het nie.

Van die huis is daar niks oor nie. Die egpaar hoop om die stoor wat ongedeerd is, is ’n woning te omskep. In hierdie stadium het hulle slegs die klere aan hul lywe oor. Een van die lodges wat ook gebrand het, het vir hul tydelike slaapplek aangebied.

“Dis nie die eerste keer wat ons Booyse’s teëspoed kry nie. Ons het gisteraand by die hospitaal daaroor gepraat. Ons sal ook hieruit opstaan,” het Mouriché gesê.

Jaybee is ’n ketelmaker van beroep en Carien verskaf koekies aan verskeie ondernemings in die dorp. Hulle verkoop ook mango’s en avokadopere vir ’n bykomende inkomste. Carien se nuwe oond wat sy aangekoop het vir haar onderneming het ook in die slag gebly.

Inwoners wat die egpaar en ander gesinne wat deur die brande geraak is wil ondersteun, kan skenkings van klere en huisraad by die Koinonia-gemeente in Olienhoutstraat in Modimolle aflewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button