CrimeLocal newsNews

Egpaar baklei verbete teen snelweg-aanvallers

As die son sak, is die N1-snelweg nie meer ’n veilige plek nie.

’n Egpaar van Modimolle het verlede week verbete baklei teen vier aanvallers wat hulle oorweldig het nadat hulle langs die N1-snelweg net verby die Carousel-tolhek in ’n noordelike rigting stilgehou het. Hulle waentjie het ’n pap wiel gehad. Beide is raakgeskiet.

Daan (63) en Linda (57) Wepener van die Bosveldsrus Abattoir in die Donkerpoort-omgewing buite Modimolle, is dankbaar om met hul lewens daarvan af te kom na die aanval op Woensdag, 18 September.

“My ouers was op pad terug van die stad toe hulle my net na 19:00 gebel het. Die waentjie wat hulle gesleep het, het ’n pap wiel gekry wat my pa gesukkel het om los te kry. Ek het gery om gereedskap te vat en die band te help ruil,” het hul seun Ryno Wepener gesê.

Met sy aankoms het hy sy pa op die grond sien sit met sy rug teen die bakkie.

“Ek het nie dadelik besef wat gebeur het nie, maar toe ek uitklim het my ma geroep en gesê dat hulle aangeval is.”
Vier mans het ‘asof uit die niet’ deur die draad langs die snelweg geklim.

Hulle het glo dadelik begin skiet. Linda wat in die bakkie was en die deur probeer toe hou het, is in haar been raak geskiet. Daan is in sy buik en voet geskiet. “My ma het gesê dat sy nie geweet het dat sy so kan baklei nie.

Albei my ouers het ’n groot geveg opgesit en is geslaan en erg verniel.” Linda het haar trouring in haar mond gedruk en vir die rowers gesê dat sy dit ingesluk het, hoewel sy nie het nie.

Sy was nie bereid om dit op te gee nie.

Die mans, waarvan twee gewapen was, het skielik besluit om die pad te vat. Hulle het die egpaar se selfone en Linda se handsak gebuit.

“Ek het my pa op sy gewonde sy laat lê en onmiddellik op HPG se veiligheidsgroep om hulp gevra.

Ek was gelukkig gewapen en was paraat as die mans sou terugkom,” het Ryno gesê. Hy het met sy selfoon se liggie aan, van die aankomende verkeer probeer stop, maar niemand wou in die donker stilhou nie. Ook twee polisievoertuie het glo verbygery.

Nadat die HPG-Nylstroom die noodroep gekry het, is hulp gou gereël. “’n Paramedikus wat van diens af was het opgedaag en my ouers gestabiliseer. HPG het onmiddellik begin om spoor te sny agter die mans aan,” het Ryno vertel. Die polisie se forensiese eenheid was ook gou op die toneel om patroondoppies en ander inligting in te samel.

Sy ouers is in twee verskillende ambulanse na die Ga-Rankuwa-hospitaal vervoer, waar hy sê hulle goeie diens gekry het. Linda, wat juis in die stad was vir X-strale voor ’n operasie aan haar gewrig, is vandeesweek geopereer. Beide was teen die naweek weer ontslaan.

“Die projektiel is steeds in my pa se lyf, maar hy is nou stabiel. Dit sal in ’n later stadium moet verwyder word.”

“Ons is so dankbaar vir al die hulp wat ons ontvang het na die voorval. Daar het selfs mense wat in die stad bly aangebied om te help tydens my ma se operasie aan haar gewrig,” het Ryno gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button