CrimeLocal newsNews

Permit ongeldig vir vervoer van broodbome

’n Man wat onlangs by die Kranskop-tolhek aangekeer is nadat hy 112 broodbome vervoer het, is ná ’n week in die Modimolle-polisieselle borgtog in die Modimolle-landdroshof toegestaan.

Volgens die polisie is die man in hegtenis geneem omdat hy nie die regte permitte vir die vervoer van die plante gehad het nie.

Die Pos het verneem dat die verdagte die eienaar van ’n kwekery in Pretoria is en wel oor ’n permit beskik om die bome te kweek en te verkoop. Al die broodbome wat in sy besit gevind is, kom glo van sy kwekery af.

Tydens die verdagte se borgaansoek op Vrydag 6 September, het die ondersoekbeampte van die departement van omgewingsake aan die hof gesê dat die verdagte se permitte hom nie toelaat om broodbome buite die Gauteng-provinsie te vervoer nie.

Volgens ’n plaaslike regskenner, wat verkies om anoniem te bly, is broodbome ’n beskermde spesie wat deur die sogenaamde TOPS-regulasies beheer word. Dit is dieselfde regulasies wat die besit en handel van renosterhorings verbied.

Die toepassing van hierdie regulasies is glo ’n kontroversiële onderwerp en daar is verskillende interpretasies oor die toepassing van die regulasies.

“Die voortdurende wysigings van die regulasies maak dit baie moeilik vir rolspelers om op hoogte van die nuutste regulasies te wees en bly dit ’n probleem dat mense wat wel bedreigde spesies mag kweek en daarmee handel dryf, hulle dikwels hulself aan oortreding van die regulasies blootstel sonder om eers te weet dat hulle die regulasies oortree,” het die regskenner gesê.

Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel, nadat die man R50 000 borgtog toegestaan is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button