Local newsNews

Vuur verniel ape se tuiste

Die Bambelela Wildbewaring en Blouaap Rehabilitasiesentrum in die Groot Nylsoog-omgewing kon nie ’n verwoestende brand verlede naweek vryspring nie. Sowat 80% van die veld het afgebrand.

Die brand het op Vrydag, 6 September in die Groot Nyls-oog-omgewing ontstaan.

Die oorsaak van die brand en waar presies dit ontstaan het, is nog nie bepaal nie, maar dit het ’n ernstige bedreiging vir verskeie plase in die omgewing ingehou. Leopard’s Rock-vakansie-oord en Bambelela was direk in gedrang.

Teen Saterdagmiddag, 7 September is al die inwoners en personeel van Leopard’s Rock en Bambelela aangesê om hul persele te ontruim, aangesien die brand buite beheer was.

Brandspanne van Werk met Vuur (Working on Fire), die plaaslike brandbestrydingverenigings en boere van die omgewing het gespook om die vlamme onder bedwang te bring.

Die elf personeellede en eienaar, Silke von Eynern van Bambelela, het egter nie kans gesien om die nagenoeg 200 ape by die rehabilitasiesentrum aan hul eie lot oor te laat nie.

Die personeel van Thaba Monate-wildsplaas het ook by hulle aangesluit om die diere en die personeel se wonings te red.

Die vlamme-muur was ’n ernstige bedreiging, maar die personeel van Bambelela het vasgestaan en die wonings en aaphokke natgespuit in ’n poging om te red wat hulle kon.

Die vlamme het in ’n stadium van die hokke bereik en hulle moes noodgedwonge die hekke oopgooi en van die omheinings knip sodat die ape kon vlug.

Von Eynern en haar span is nog besig om die skade te bepaal, maar sy kon wel bevestig dat die personeel se wonings en rehabilitasiesentrum gered kon word.

Ongeveer 80% van Bambelela se veld is afgebrand en talle hokke is beskadig. Daar is tans nog 12 ape, wat hul noodgedwonge moes vrylaat, waarvan hul nie rekenskap kan gee nie.

Hulle vertrou dat die ape sal terugkeer.

Op Leopard’s Rock is ’n baie groot deel van die veld deur die brande vernietig en Werk met Vuur se brandspan het daar gefokus om van die wonings te probeer red.

Volgens berigte het die woning van Sebastiaan Hechter op dié perseel in die slag gebly. Orals is mense besig om die omvang van die skade te probeer bepaal.

Teen Maandag, 9 September was die vuur steeds nie heeltemal geblus nie en het dit weer begin opvlam by Bela-Vida in die Verloren-omgewing.

Werk met Vuur het lug ondersteuning ingeroep, as gevolg van die sterk winde en die topografie van die terrein wat moeilik begaanbaar is. Teen laatmiddag is egter bevestig dat die brande geblus is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button