CrimeLocal newsNews

Man in hof na hy broodbome vervoer

’n Man wat glo 112 broodbome sonder permitte vervoer het, is by die Kranskop-tolhek aangekeer.

Die 66-jarige man is op Maandag 2 September deur die polisie afgetrek, nadat hulle inligting ontvang het dat hy moontlik die beskermde plante sonder permit in sy Volks-
wagen-bussie en waentjie vervoer.

Die voertuig het, volgens die polisie, vanuit Gauteng in ’n noordelike rigting op die snelweg gereis. Daar was 19 verskillende spesies op die vrag gewees, asook buitelandse geld in die voertuig.

Die verdagte is in hegtenis geneem en by die Modimolle-polisiestasie aangehou tot hy op Woensdag, 4 September in die plaaslike hof verskyn het op klagtes wat verband hou met die onwettige vervoer van die broodbome.

AO. Pieter Booyse van die Modimolle-polisie het gesê dat die man Woensdag R50 000 borgtog toegestaan is.

Geen persoon mag beskermde plantspesies verkoop, koop, vervoer of oes sonder die nodige permitte nie, volgens die wet op nasionale omgewingsbestuur vir biodiversiteit (Nemba).

Broodbome, wat dikwels verwar word met palms en boomvarings, is volgens die Endangered Wildlife Trust (EWT) deel van die oudste saadplante wat dateer uit die tydperk van die dinosourusse.

Suid-Afrika is ’n brandpunt vir broodboom-diversiteit met 38 inheemse spesies wat 10% van die wêreld se broodbome verteenwoordig.

Meeste van die spesies behoort aan die genus Encephalartos, wat uitwissing in die gesig staar. Broodbome wat onwettig uit die veld geoes word, is een van die grootste redes hiervoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button