Local newsNews

Al die veld is vrolik

Soos die aarde draai, so draai die seisoene en in die suidelike halfrond vier ons Lentedag op 1 September. Hier in die Bosveld is dit egter meer ’n geval dat die oorgang van winter, die lente oorslaan en binne enkele dae is dit somer.

Maar eie aan Bela-Bela is hierdie tyd van die jaar, ’n lushof van bome wat kreun onder die vragte blomme wat hul dra.

Die ou stadsvaders het dalk nie inheems geplant nie, maar hul het regtig die skouspel van pienk en wit blomme in ag geneem toe hulle die talle Bauhenia-bome (in die volksmond bekend as orgideebome) langs die strate van Bela-Bela aangeplant het.

Bela-Bela se tuine en strate is besig om stadig maar seker deur ‘n blomme ontploffing omskep te word in ’n kaleidoskoop van kleur.

Sommige strate spog met koraalbome op die sypaadjies. Hul helder rooi blomme kondig altyd eerste die aanbreek van die nuwe seisoen aan. Hier en daar is die pragtige drolpeerbome (Bosveld-bruidjies) geklee in hul sneeuwit blomkleed, ’n skrille kontras met die ander helder kleure.

Maar ook in die tuine is Moeder-natuur besig om kwistig met haar verfkwas ’n kleur-tsunami te verf. Die viooltjies, madeliefies en boslelies staan trots regop met hul geel, pienk, wit en oranje blomme.

Die akasia bome se geel donskwassies lok nou die bye en oral is kleurvolle vlinders te sien.

Met die ontwaking van elke nuwe dag, lui meer en meer geveerde sangers, die voël-simfonie in. Almal hou asem op vir daardie eerste reëns wat die winter se stof sal kom afwas.

Vir tuiniers is dit nou die regte tyd om van onkruid in die tuin ontslae te raak, voordat die eerste reëns hul sade laat ontkiem. Werk dan ook nou genoeg kompos in jou tuin in, voed grasperke en plant nou jou dahlias wat vir somer prag sal sorg.

Die Bosveld is baie dankbaar en kort na die eerste reën geval het, word die vaal veld omskep in ’n groen tapyt en bome wat asvaal in die stof gestaan het, word oornag omgetower met lowergroen nuwe blare. Lente is die natuur se manier om ’n glimlag op ons gesigte te sit en te sê – kom ons hou partytjie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button