Local newsMunicipalNews

Riool in rivier ’n riller

Die Klein Nyl-rivier is siek. Dit is ’n chroniese siekte wat jaar na jaar wegkalwe aan die gesondheid van mens en dier wat langs die rivier leef.

Die Pos het die afgelope week talle klagtes ontvang van inwoners oor die stank van die riool, wat op verskeie plekke in die rivier inloop.’n Boer wie se plaas net anderkant die dorp is, het laat weet dat honderde visse verlede week gevrek het.

Die Klein Nyl kronkel vanuit Donkerpoortdam, deur die dorp en sluit in die Jasper-omgewing aan by die Groot Nylrivier, vanwaar dit afloop na die bewaarde Nyls-
vley-gebied.

Riool wat in die Klein Nylrivier stort is jare reeds ’n probleem met verskeie politici en burgerregte organisasies wat sake aanhangig gemaak het om die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit verantwoordelik te hou vir die verwoesting van ’n Unesco-erfenis gebied. Talle beloftes is al gemaak om die storting te voorkom.

Die mees onlangse saak waaroor Die Pos berig het, was toe Desiree van der Walt, DA-kiesafdelingshoof, in April ’n saak teen die burgemeester en die munisipale bestuurder geopen het oor die riool wat onverpoosd in die rivier invloei. Yolanda Meissenheimer van die Groen Skerpioene het gesê dat die saak tans by die aanklaer is vir ’n beslissing.

Albert Grobler wat in die Jasnia-woonstelle reg langs die rivier woon, sê dat die stank soms so ondraaglik is dat ’n mens nie kan asemhaal nie.

“Ons weet nie meer watter kant toe nie. Ons het in Maart al ’n afspraak met die burgemeester gehad om die probleem te bespreek, maar niks gebeur nie. Hier is ’n drein wat jare lank al uitborrel. Omdat dit nie nou reën nie, staan die water bykans stil en dit stink verskriklik. Die water lyk pikswart,” het hy gesê. Volgens hom het die munisipaliteit al aan die drein gewerk, maar sonder enige sukses.

“Selfs werkers van die departement waterwese was hier om monsters van die water te neem vir ontleding, maar daar het ook niks van gekom nie.”

Neels Smit, wat reeds 63 jaar op sy plaas in die Jasper-omgewing woon, het gesê dat honderde visse in die kuile gevrek het.
Tydens Die Pos se besoek op Dinsdag, 27 Augustus, het baie van die visse reeds na die bodem gesink, maar talle, so groot soos ’n mens se voorarm, het nog rond gedryf. Dit het babers, karp en kurpers ingesluit.

“Ek het my beeste uit die kamp teen die rivier verwyder, want ek wil nie hê hulle moet die vrot water drink nie. Werknemers van die Groen Skerpioene wat hier was, het gesê dit is as gevolg van te min suurstof, maar ek het hulle gaan wys dat die rivier wel loop. Ek is doodseker hierdie is van die riool wat hoër op in die rivier gestort word. Op ’n afdraai van die Jasper-pad kan mens duidelik sien hoe die riool op twee plekke in die water instroom.”

Ook hy bevestig dat klagtes op dowe ore val. “Almal wat laer af boorgate langs die Nylrivier het, moet maar hul water laat toets.

Die oumense het altyd na hierdie gebied en Nylsvley verwys as die sponsgebied vir die Springbokvlakte se grondwater.

Burgemeester Sechele Sebolai het onderneem om die koerant op Woensdag, 28 Augustus na die rioolsuiweringswerke te vergesel. Voorheen was die rioolwerke se kapasiteit die rede waarom riool opgestoot het.

Related Articles

Back to top button