Local newsNews

Entrepreneur gesels met VLU-vroue

Die Vroue Landbou-unie se Naboomspruittak het tydens hul byeenkoms op Dinsdag, 13 Augustus gesels oor entrepreneurskap.

Hulle het vir Gerhard Viviers, ’n plaaslike boer en sakeman, genooi om oor sy loopbaan as entrepreneur te gesels.

Viviers is die eienaar van London-padstal in Mookgophong en Modimolle. Dit is vernoem na London, die plaas waarop hy boer.

Viviers het vertel dat hy in 2006 platsak in die omgewing aangekom het en los werkies gedoen om aan die lewe te bly. In 2010 het hy op ’n drie hektaar plaas begin boer en kon die oes aan die informele mark verkoop.

Teen 2014 het hy gereeld sy tamaties aan klante begin lewer en in die daaropvolgende jaar het die supermark OK, wat onder nuwe bestuur was, gevra dat hy tamaties en ander groente aan hulle moet lewer. In 2016 het hy ’n groter plaas gehuur en op groter skaal begin boer. In hierdie tyd het hy ook aan die markte in Pretoria en Johannesburg gelewer.

Dit het bo verwagting goed gegaan en hy kon die plaas in 2017 koop.

Viviers het vertel dat sy groot droom was om eendag ’n groentewinkel te besit en plaaslik ‘n diens te kan lewer deur plaasvars groente wat bekostigbaar is, te verkoop. Hy het hierdie droom verwesenlik toe hy London-padstal in Modimolle geopen het waar hy sy eie groente voorsien en vrugte by die mark en plaaslike boere aankoop.

Hy skryf sy sukses toe aan harde werk en die ondersteuning van sy gesin, familie en die gemeenskap.

Hy sê dat hy deur die genade van die Here ’n sukses van sy boerdery kon maak. Hy hoop om in die toekoms meer werksgeleenthede te kan skep en ‘n nalatenskap vir sy kinders te bou waarop hulle trots kan wees.

Die VLU-vroue het hul waardering vir sy harde werk en die deel van sy storie met hulle, uitgespreek.

Related Articles

Back to top button