Local newsNews

Vuurslaners veg teen vlamme

Brandbestryders het vandeesweek meer as twee dae lank teen die vlamme in die bergagtige gebied tussen Bela-Bela en Modimolle baklei.

Die brand, wat Woensdagoggend, 21 Augustus oor sowat vier plase gestrek het, het volgens Lloyd Schoeman van die Kariba-brandbestrydingsvereniging, vermoedelik in ’n beton afleivoor teen die pad begin.

“Ons vermoed iemand wat daar geslaap het, het moontlik ’n vuur gemaak wat die veld aan die brand gesteek het.”

Die brand het glo Maandagmiddag teen ongeveer 18:00 in die Tweefontein-gebied gewoed. “Dit is darem nou (Woensdag) onder beheer, maar ons het nog steeds spanne in die veld om opruiming te doen. Die bergagtige gebied maak brandbestryding baie moeilik,” het Schoeman gesê.

Daar is gelukkig nie veel geboue wat beskadig kan word op die koppies nie.
Brandbestrydingspanne van die Kariba-brandbestrydingsektor sowel as Working on Fire spanne van Sondela, Mabalingwe en Modimolle het tot laataand die vlamme die stryd aangesê. Daar het na raming sowat 500 hektaar afgebrand.

“Boere in die omgewing het ook ingespring om te kom help. Daar was ter enige tyd tussen twintig en dertig bakkies met drie tot vyf mense elk hier om te help vuur-
slaan.

Dit help so baie as ’n mens weet die gemeenskap staan agter jou en spring in om te help om die probleem op te los,” het Schoeman gesê.

Mariëtte Nicholson van die brandbestrydingsvereniging het gewaarsku dat dit nou ’n uiters gevaarlike tyd vir veldbrande is omdat dit warmer word en die veld baie droog is.

“Ons vra weer dat mense baie versigtig moet wees. Moet geen oop vure maak nie, ook nie asgate brand of as uitgooi nie. Indien daar ’n brand is, meld dit so gou moontlik aan op die veiligheidsgroepe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button