Local newsNews

Wynand woeker fluks agter sy rekenaar

Akademiese werk was nog altyd een van Wynand van Niekerk, ’n jong man van Modimolle, se sterkpunte. Vir tyd voor die boeke spandeer, was hy nog nooit bang nie.

In sy finale skooljaar, geniet hy homself terdeë.

Van Niekerk het, nadat hy gr. 7 aan Laerskool Nylstroom voltooi het, besluit om by die Modimolle Christian Academy (Modicademy), ’n privaatskool, aan te sluit sodat hy die internasionaal erkende Cambridge-aanlyn-program kon volg.

“Ek wou myself na gr. 7 uitdaag en my skoolwerk in Engels voltooi.” Hy het vroeër vanjaar die Cambridge se I GCSE-program (algemene internasionale sertifikaat van sekondêre onderrig) voltooi.

“Modicademy het oorgeskakel na die SwitchedOn-program, ’n internasionale aanlyn-gebaseerde kurrikulum, en ek het besluit om die kans te gebruik om ook my Amerikaanse hoërskooldiploma aan te pak,” het die 18-jarige gesê.

“Die uitslag van hierdie program is baie vinnig en dit help met universiteitstoelating,” het hy gesê.

Die diploma, wat oor twee jaar voltooi word, het nege vakke en Van Niekerk voltooi die eerste deel in September, sodat hy die tweede deel in Mei volgende jaar kan afhandel, in ’n verkorte tyd van ’n jaar en vyf maande. Hy werk in hierdie stadium een dag ‘n week by die skool en die res van die tyd van die huis af.

Oor watter studierigting hy gaan aanpak ná hy sy skoolwerk voltooi het, is hy nie seker nie. “Ek oorweeg ’n BSc in natuurkunde of dalk veeartsenykunde. Ek dink wanneer ek in Mei klaarmaak, wil ek eers ’n ruk in ’n rigting werk om ’n idee te kry wat dit behels,” het hy gesê.

Van Niekerk, wat op ’n plaas buite die dorp groot geword het, sê dat hy sy liefde vir die natuur by sy pa, Andries, geleer het. “Ons stap gereeld saam op die plaas.” Sy liefde vir leer kom van sy ma Rhona af, wat tans besig is om verder te studeer.

Sy stokperdjies wys ook duidelik waar sy hart lê. Hy is die jongste lid van die Dendrologiese Vereniging en het ’n artikel oor van die Bosveldbome, die papierbasvalsdoring en die maroelaboom, in die vereniging se tydskrif, Dendron, gepubliseer.

Die projek wat hy saam met sy pa aangepak het om ’n 1978-VW-kewertjie reg te maak, beskryf hy as groot pret.

“Ja, die akademie is harde werk, maar as jy jou werk geniet en passievol is oor wat jy doen, dan kom dit maklik. Mens moet ook maar deurdruk selfs in die tye wat ’n mens nie so baie van die

werk hou nie. Ek beloon myself na moeilike werk, deur iets te doen waarvan ek wel hou.”

Van Niekerk het ook ’n musikale kant en speel klavier en kerkorrel. Die ander instrumente wat hy kan laat sing is ’n kitaar en trekklavier.

“Die aanlyn-program leer die leerders selfdissipline en wanneer hulle deur die proses is, is hulle onafhanklike werkers. Dit maak van hulle ware studente,” het Lourin Viljoen, die skoolhoof van Modicademy gesê.

Related Articles

Back to top button