Local newsNews

Leerder se dood skok gemeenskap

Die skoolgemeenskap van Hoërskool Warmbad en die inwoners van Bela-Bela is baie geskok na die skielike afsterwe van Lenie Potgieter, een van dié skool se gr. 11-leerders.

Die leemte wat Lenie (17), in haar gesin se lewe laat is ook onmeetbaar. Haar pa, Danie se hart is stukkend. Hy onthou sy opgewonde kind, wat altyd wou weet wanneer hulle weer gaan visvang. Lenie was baie lief vir visvang, die natuur en diere.

As enkelouer wou Potgieter altyd net die beste vir sy kinders gehad het en al was finansies maar altyd ’n uitdaging, het sy lewe om sy kinders gedraai. Lenie wou na skool ’n boekhouer word en het altyd vir haar pa gesê sy sal eendag goed vir hom sorg.

Lenie is op negejarige ouderdom met tipe 1-diabetes gediagnoseer en dit was nooit maklik om haar gesondheid stabiel te hou nie. Soms was haar bloedsuiker so hoog, dat die toets apparaat nie eens ’n lesing wou registreer nie. Die laaste drie jaar was sy gereeld in die hospitaal.

Op Saterdag, 3 Augustus het Lenie begin kla van ’n pyn in haar bors en was hul onder die indruk dat sy besig is om griep te kry. Sy kon egter later nie meer eet nie, en toe sy sieker word, is sy na die provinsiale hospitaal in Bela-Bela geneem. Oor die behandeling wat sy by die hospitaal ontvang het, wou Danie Potgieter nie veel uitbrei nie, maar dit was volgens hom nie na wense nie, en sy dogter se toestand het baie versleg.

Sy het later in ‘n ‘suiker-koma’ gegaan en is Saterdag, 9 Augustus, ongeveer 9:30 in die hospitaal oorlede.

Potgieter hou vol dat sy dogter geveg het tot die einde toe. Elke keer as hy haar aangespoor het om te baklei het die monitors ’n effense verbetering getoon.

Dit voel nog vir hom so onwaar, en onwerklik. Die realiteit het nog nie tot hom deurgedring nie.

Potgieter glimlag as hy oor sy baard vryf, van die laaste woorde wat Lenie ooit vir hom gesê het is dat hy nie sy baard mag skeer voor Kersfees nie.

Potgieter is verbaas oor al die boodskappe van ondersteuning wat hy van oral ontvang het. Hy het nie besef hoe gewild sy dogter werklik was nie. Hy is dankbaar vir al die welwillendheid en meelewing wat hy en sy gesin ontvang.

Lenie Potgieter laat haar pa, broer Dirk, en tante Annemarie Meyer agter. ‘n Roudiens sal op Vrydag, 16 Augustus by Hoërskool Warmbad vir haar gehou word.

Related Articles

Back to top button