Local newsNews

Landbou kan werk skep én land bou, sê Steenhuisen

Landbou steun swaar op die samewerking tussen boere, die waardeketting, organisasies, beleidmakers, verbruikers en hul gemeenskappe.

Daarom het Agri Limpopo “Ons is, want jy is” as tema vir vanjaar se kongres, wat op 13 en 14 Augustus by die Weesgerus-vakansieoord in Modimolle aangebied is, gekies.

Die boere is onder andere ook toegespreek deur twee minister van die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE). Twee departemente wat nou bestuur word deur ministers uit die geledere van die Demokratiese Alliansie (DA), het ’n direkte impak op boere: John Steenhuisen, die minister van landbou en Dean McPherson, die minister van openbare werke en infrastruktuur.

Steenhuisen, wat sy toespraak in Afrikaans begin het, het aan die boere gesê dat hy oortuig is dat Suid-Afrika die beste boere en plaaswerkers in die wêreld het omdat hulle, ten spyte van enorme uitdagings, steeds kwaliteit produkte lewer en kompeteer met boere uit ander lande wat staatsubsidies ontvang. “Hierdie sektor kan werk skep en die land bou.”

Hy het verskeie punte waarop sy departement gaan fokus uitgelig. Bio-sekuriteit, die na-speurbaarheid van produkte se herkoms, is belangrik omdat internasionale markte dit vereis.

Daarsonder is markte vir plaaslike boere beperk. “In die afgelope klompie jare is hierdie aspek afgeskeep. Ons het gesien watter verwoestende effek siektes soos vark- en voëlgriep en bek-en-klouseer op boerderye gehad het.

Plaagbeheer is net so belangrik om na te kyk om te verseker dat internasionale markte ons produkte aanvaar.

Wanneer ons bio-sekuriteit verbeter, kan ons ’n premie op ons produkte vereis.”

Steenhuisen het daarop klem gelê dat die departement moet moderniseer en gesê dat ou wetgewing wat nie meer geskik is vir die moderne era, dringend hersien word.

Tegnologie moet ingespan word om boere op die snykant van ontwikkeling te plaas – die bedryf kan nie bekostig om agter gelaat te word deur hul internasionale eweknieë nie.

“Ons vergader met rolspelers in die bedryf sodat ons span presies kan verstaan watter ondersteuning landbou van ons departement af nodig het,” het hy gesê.

Steenhuisen word ondersteun deur Annette Steyn, wat jarelank die DA se skaduminister van landbou was en uit ’n familie van boere kom, as spesiale raadgewer.

McPherson het aan die boere gesê dat sy departement hoop om die 83% sukses wat die Wes-Kaap met hul grondhervorming behaal het, landswyd wil inspan om landbou ’n hupstoot te gee. Sy departement kyk ook na staatsgrond wat op langtermyn verhuur kan word vir landbou.

“Ons moet landbougrond beskerm soos wat ons die Kruger-wildtuin beskerm, want dit beteken voedselsekerheid.

Ek kon nêrens bewyse vind dat grond wat eers vir mynbou of behuising gebruik is, weer vir landbou gebruik kon word nie,” het hy gesê.

Hy het gesê boerderygemeenskappe moet beveilig word. Groot klem is ook gelê op die belangrikheid van effektiewe hawens om landbouprodukte by hul markte te kry.

Related Articles

Back to top button