CrimeLocal newsNews

Freitag-moord: Oosthuizen het nuwe prokureur

Rudie Lubbe en Chantelle Oosthuizen het Maandagoggend, 12 Augustus, weer vinnig in die landdroshof in Pretoria verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van moord, poging tot moord en sameswering om ’n moord te pleeg. Dit was hul vierde verskyning.

Hulle word betrek by die dood van die oud-wêreldkampioen in hoogspring, Jacques Freitag. Freitag se ontbinde lyk is op 1 Julie in ’n veld langs die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-Wes gekry.

Die twee beskuldigdes word ook aangekla weens die ernstige aanranding op Louis Harmse. Oosthuizen en Harmse was nog kort voor die aanranding verloof.

Oosthuizen het nou ’n nuwe prokureur. Muhammed Farouk Valjee sal vir haar in die toekoms optree. Prokureur, Shaun Hefferman verteenwoordig nou net vir Lubbe.

Hy was voorheen ook Oosthuizen se regsverteenwoordiger.

Hefferman se seun, Steve, wat Oosthuizen voorlopig verteenwoordig het, asook adv. Jack Gerber wat albei beskuldigdes verteenwoordig het, het heeltemal aan die saak onttrek.

Die staatsaanklaer, Liana Bosman, het gevra dat die saak uitgestel word vir verdere ondersoek. Dit is toegestaan.

Die saak sal in Oktober hervat.

Related Articles

Back to top button