Local newsNews

Gereed vir toeriste

Die Vriende van die Bosveld-groep en Waterberg Toerisme is twee organisasies wat saamspan om die Waterberg, en ons dorpe meer aantreklik en toeganklik vir toeriste te maak.

Die hoop is om in samewerking en deur vennootskappe met vakansie-oorde, gastehuise en ander sakeondernemings en organisasies ’n netwerk te vorm wat toerisme in ons omgewing ’n groot hupstoot kan gee, en sodoende al ons inwoners kan bevoordeel.

Ian van Rensburg van Sondela-natuurreservaat en Spa.

Tydens ’n geselligheid wat by Summerset Place-gastehuis gehou is op Donderdag, 20 Junie, het talle rolspelers bymekaar gekom, vir wie toerisme in Bela-Bela na aan die hart lê.

Syd Catton van die Waterberg Development Initiative.

Daar is terugvoer gegee van die span wat die Toerisme Ekspo in Mei in Durban, KwaZulu-Natal bygewoon het. Toekomstige geleenthede is bespreek soos die KykNet Buite Ekspo te Sondela-natuurreservaat en Spa wat vanaf Vrydag 26–28 Julie plaasvind en die Koben Hofmeyr Trust se sewes rugbytoernooi.

Koben Hofmeyr van die Koben Hofmeyr Trust.

Die rugbytoernooi, beter bekend as die Sunshine Town-sportbyeenkoms, word in September by Hoërskool Warmbad aangebied.

Engeline Gericke van Waterberg Toerisme het die belangrikheid van toerisme vir ons ekonomie beklemtoon en almal versoek wat kan betrokke raak, om dit te doen.

“Ons moet selfstandig word om uit te brei, en dit kan ons slegs doen as al die rolspelers betrokke raak,” het sy gesê.

Hannes Tolmay van Thaba Monate-natuurreservaat buite Bela-Bela het na afloop van die geleentheid aangedui dat hy die volgende byeenkoms in middel Julie by Thaba Monate sal huisves.

Related Articles

Back to top button