Local newsLocal sportNewsSportSport

Blitsbokke kom nou Bosveld toe!

Eers was dit die Bulle wat Bosveld toe gekom het… en nou is dit die Blitsbokke!

’n Groot lekkerte wag op plaaslike rugbyliefhebbers met die Willem Strauss Internasionale Sewestoernooi wat van 6 tot 8 September by Hoërskool Nylstroom gaan plaasvind. Strauss is die president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU).

Dit is nie net die Blitsbokke nie, maar ook die Springbok Vrouesewesspan wat op die veld draf om kragte teen verskeie internasionale spanne te meet, het Die Pos uit die binnekringe verneem. Die internasionale spanne sal volgens bronne glo later bevestig word.

Wat dit uniek maak is dat die Blitsbokke slegs een keer ’n jaar op Suid-Afrikaanse bodem te sien is in Kaapstad by die Kaapse Sewestoernooi. Waterberg-inwoners kan nou uithaler- wedstryde op hul eie bodem geniet. Daar gaan ook ’n hoërskole, klub- en universiteits-afdeling met spanne soos Tukkies en ’n vroue-afdeling wees. Rugby vir die fynproewer!

Hoërskool Nylstroom se mooi velde met hul groot pawiljoen wat tot 9 000 toeskouers kan akkommodeer en baie spasie vir parkering, maak dit goed gepas om toernooie van dié kaliber aan te pak. Die eerste wedstryd tussen professionele spanne is in Februarie vanjaar by die skool aangebied toe die Vodacom Bulls XV die Valke in ’n opwarmingswedstryd ontmoet het.

Die Blitsbokke het ná hul onlangse seges oor Uganda (26 – 0), Kanada (28-0) en Brittanje (14-5), in die finaal van die Monaco Repechage-toernooi hul plek in die Olimpiese Spele in Frankryk se Rugby Sewestoernooi bespreek. Die toernooi vind van 24 tot 30 Julie by die Stade de France buite Parys plaas.

Daar is twaalf spanne wat in drie poele gaan deelneem. Die Springbokke sal in Poel A te staan kom teen gedugte spanne van Ierland, Nieu-Seeland en Japan.

Die vrouespan het self ’n moeilike poel en gaan kragte meet met Australië, Ierland en Engeland (Brittanje) in die uitspeelwedstryde. Die vroue het in die onlangse toernooie teen al drie hierdie spanne vasgeval. Hulle is egter oorgehaal om tydens die Olimpiese Spele uithalerrugby te speel.

Die wedstryde wat tydens die Willem Strauss Internasionale Sewestoernooi gespeel word, word glo gesien as ’n pyplyn vir die Blitsbokke in hul volgende siklus ná die Olimpiese Spele.

Related Articles

 
Back to top button