Local newsNewsSchools

Leerder redeneer haar toekoms oop

Om te kan praat is een ding, maar om raak te praat oor enige gegewe onderwerp, is ’n perd van ’n ander kleur. Izandri Strachen (gr. 12) van Hoërskool Warmbad het hierdie besondere talent.

Vir Izandri is redenaars ’n tweede natuur en sy deins nie terug vir moeilike onderwerpe nie. Sy het op Donderdag, 16 Mei deelgeneem aan die Limpopo provinsiale redenaars-
kompetisie. Die kompetisie is deur middel van Zoom gehou en sy het 18 ander redenaars van gr.10 tot 12 se redes kort geknip met haar wel-deurdagte redenasies.

Sy is die enigste leerder van Hoërskool Warmbad wat deurgedring het na die nasionale kompetisie wat op Donderdag, 3 Oktober by Laerskool Rooihuiskraal in Pretoria gehou word.

Izandri vertel dat sy in gr. 1 al begin het met dramalesse. In die laerskool is sy as graadwenner aangewys en het sy groot ideale gekoester om dié buitemuurse aktiwiteit in die hoërskool nog verder te vat.

Die Covid-pandemie het die eerste twee jaar ’n stokkie daarvoor gesteek. In gr.10 het sy slegs aan die ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem. Maar in 2023 het sy vir die eerste keer aan die nasionale kompetisie deelgeneem en was sy tiende van die 18-redenaars in haar ouderdomsgroep.

Hierdie jaar mik sy vir ’n plek onder die topvyf, en met ’n onderwerp waarin sy die paradokse in ons alledaagse lewe beskryf, en dit boonop in Engels, gaan sy verseker die beoordelaars se aandag vasgryp.

Sy is ’n leerder met ’n blink toekoms en beplan om volgende jaar in die regte te studeer. Haar droom is om as advokaat te praktiseer en sal haar redenaarsvermoë goed kan gebruik om regsake te beredder in ons land se howe.

Related Articles

Back to top button