Editor's choiceLocal news

Tant Annie byna ’n eeu gespaar

’n Verbysterende 36 135 dae, dit is hoe lank 99 jaar is. Min artikels of instansies in ons huidige omgewing kan spog met ’n 99 jarige leeftyd, maar vir Tannie Annie Prinsloo van die Rusoord Ouetehuis in Bela-Bela, is hierdie mylpaal ’n realiteit.

Tannie Annie het op Woensdag, 29 Mei haar 99ste verjaarsdag gevier by haar nuwe blyplek waar sy sowat vier maande gelede ingetrek het. Nou flink op pad na ’n eeu toe, het vriende en familie gekom om hierdie heuglike dag saam met haar te vier.

Sy is in 1925 gebore in De Rust-omgewing in die Klein Karoo, waar haar pa, Mike Pitout met volstruise geboer het. As een van tien kinders (sy het drie broers, vier susters, en drie stief-susters gehad), het sy op Oudtshoorn skoolgegaan, totdat die gesin in haar st. 2 (nou gr. 4) jaar na Pretoria verhuis het.

Sy en haar man, Koos Prinsloo het mekaar in Pretoria ontmoet, en is op 2 September 1948 daar getroud. Hulle het in 1968 na Hazyview verhuis, later na Bronkhorstspruit, en weer teruggekeer na Pretoria waar hulle uiteindelik afgetree het. Die Prinsloo-egpaar was vir 66 jaar getroud tot haar man se dood in 2014.

Tannie Annie Prinsloo vier haar 99ste verjaarsdag.

Tannie Annie is die ma, en ouma van 3 seuns (een seun is op ’n jong ouderdom aan kanker oorlede), een dogter, ses kleinkinders, nege agter kleinkinders en twee agter-agter kleinkinders. Haar seun, Chris Prinsloo (72) wat op Negester Landgoed woon, onthou hoe sy moeder in sy kinderdae, nie net die hart van sy pa se vervoeronderneming was nie, maar ook gretig naaldwerk vir al die bure gedoen het, en dan was sy verskriklik lief om te bak. Hy onthou met groot deernis haar heerlike pynappel “flan” waarvoor sy wyd en syd bekend was.

In haar merkwaardige leeftyd het sy die Tweede Wêreld Oorlog beleef, toe Suid-Afrika ’n Republiek geword het in 1961, asook ons eerste demokratiese verkiesing in 1994, en 30 jaar na daardie geskiedkundige datum, vier sy haar verjaarsdag op die dag van ons sewende nasionale verkiesing in ’n demokratiese Suid-Afrika.

Op ’n vraag van wat se raad Tannie Annie ander kan gee om so ’n hoë ouderdom te bereik, was haar antwoord kort en kragtig:

“Geen alkohol, geen rook, en hou net vas aan die Here!”

Chris het aan Die Pos gesê dat hy besluit het om sy moeder van Pretoria te verskuif na Rusoord, sodat sy nader aan hom kan wees. Hy is vol lof vir die personeel by Rusoord en sê dat haar versorging van hoogstaande gehalte is.

Related Articles

Back to top button